GOUD | |
  |
Sedert menseheugenis het goud ‘n baie belangrike rol gespeel. Reeds kort na die Skepping van die mens en die vestiging van die tuin van Eden, lees ons in Gen. 2:12 - “En die goud van dié land is goed.” Dit word egter nie vir ons gesê of Adam enige iets met die goud gedoen het nie. Later sou die mens dit ontgin, en het dit ‘n sentrale rol vervul in die bestaan van die mens. Indien ons slegs die Bybelse getuienis oor goud nagaan, kom daar insiggewende inligting na vore. Goud was belangrik toe Moses die tabernakel as plek van aanbidding moes bou. (Verder ook met die bou van die tempel in die tyd van Salomo). Ons lees voorts hoe Hiram aan Salomo ‘n groot hoeveelheid goud geskenk het: “Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer” (1 Kon. 9:14). En selfs die koningin van Skeba: “Sy het na Jerusalem toe gekom met ‘n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en ’n groot hoeveelheid goud en edelstene” (1 Kon 10:2). Dan vers 10: “Sy het vir die koning meer as vier ton goud en ‘n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee.” Ons lees verder in 1 Kon. 10:14 - “Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop, behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.” Dan sê die Bybel m.b.t. Salomo: “Die koning het goud en silwer in Jerusalem so volop gemaak soos klippe, en seders so volop soos wildevye-bome in die Laeveld” (2 Kron. 1:15). Selfs Abraham (en andere) was ryk aan goud (Gen. 13:2). By Dawid vind ons ‘n klemverskuiwing m.b.t. die betekenis van goud: “Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud van al die nasies wat hy onderwerp het” (2 Sam. 8:11). Hy verklaar ook: “Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer” (Ps. 119:72). God se wet (Sy Woord) is vir ons kosbaar. Daar is baie ander dinge wat beter is as goud: verstand (Spr. 3:14), kennis (Spr. 8:10), wysheid (Spr. 16:16), lippe van kennis (Spr. 20:15). Spr. 22:1 lui “‘n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.” Al bg. dinge is beter as goud, omdat goud sy glans kan verloor (Klaagl. 4:1). “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid” (Eseg. 7:19). In ons verhouding met die Here moet ons ook met “goud” bou (1 Kor. 3:12). Die Here sal ons toets en louter soos goud (Spr. 17:3; Sag. 13:9; Mal. 3:3). Die apostel Petrus skryf m.b.t. ons beproewinge (1 Pet. 1:7): “…sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus…” Want, sê Petrus: “…omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos…” (1 Pet. 1:18-19). Daarom verklaar Openbaring 3:18 ook: “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word…” Laat ons ons beywer om die “goud” van God te bekom, en gereed te wees vir die koms van Jesus Christus! |