KORTSLUITING!!! | |
  |
“Elektriese fout, lady,” sê die snelwegnooddiensman. “Kortsluiting. Kyk al die uitgebrande draadjies. Ons sal jou kar moet insleep.” “Maar…” Wat help dit tog om te redeneer? ‘n Kortsluiting in jou motor se enjin laat alles tot stilstand kom. Alle kortsluitings maak so, maak nie saak of dit in motorenjins, in jou haardroër, in jou huis se dak, of in die multiprop waaraan jou rekenaar gekoppel is, voorkom nie. Maar op ‘n dag beleef jy die ergste kortsluiting, dié een wat die meeste skade aanrig. Jy beleef ‘n kortsluiting in jou geestelike lewe. ‘n Positiewe en ‘n negatiewe invloed maak kontak. Die stroom gaan terug en jou lig skyn nie meer nie. Jy ontplof, jy kook van woede, jy brand sommer uit, of jy verloor jou visie. Die negatiewe stroom van die irriterende, materiële, wellustige of ligsinnige wêreld kom in kontak met jou innige begeerte om God beter te leer ken. Die kortsluiting vind plaas en dit gaan sleg met jou geestelike lewe. Vreemde dinge gebeur wanneer jou rekenaar onverwags morsdood is as gevolg van ‘n elektriese kort-sluiting in die multiprop. Jy kan die dokument waarmee jy besig was, op AutoRecover oproep. Maar jou dokument lyk nou heeltemal anders. Al die spelfoute, alles wat jy uitgegooi het, is terug. Alles wat jy nooit weer wou sien nie, verskyn weer op die skerm. NÓG 5 REDES WAAROM ONS NIE GEESTELIK GROEI NIE 1 Ons laat toe dat ons geestelike lewe ‘n gewoonte word, iets wat ons elke dag herhaal sonder om daaroor te dink, soos die gemeente van Efese. Ons verlaat ons eerste liefde, Jesus Christus. Ook óns het ons naaste nie meer lief nie: Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het (Op. 2:4-5). 2 Ons gee nie meer om as mense die Evangelie van Jesus Christus verdraai nie. Soos die gemeente van Pergamum bied ons nie weerstand teen verdraaide leerstellings nie: Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen (Op. 2:14-16). 3 Ons bedryf nog maar steeds ons (geheime) sondes. Ons beskou heiligmaking nie as dringend noodsaaklik nie. Ons is soos die gemeente van Tiatira: Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet (Op. 2:20). 4 Ons speel Christen-Christen, maar met die Heilige Gees wandel ons nie. Ons is ongehoorsaam aan die opdragte van God, soos die gemeente van Sardis: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van My God nie. Dink daaraan hoe julle die Evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle (Op. 3:1-3). 5 Ons ontken ons geestelike armoede en honger. Ons raak selftevrede en ontken dat ons geestelik blind geraak het, soos die gemeente van Laodisea: Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,’ en julle weet nie dat julle ellendig en beklaens-waardig is nie, arm, blind en kaal. Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien (Op. 3:17-18). GROEI JY NOG GEESTELIK, GESOUTE GELOWIGE? Die AutoRecover-funksie van ‘n rekenaar is baie soos ons onderbewussyn. Dinge wat diep verborge lê, kom in oomblikke van frustrasie, krisis, ontsteltenis en versoeking boontoe. Wat in daardie oomblikke uitkom, gee ‘n goeie aanduiding van wat in die gees-telike lewe van gesoute en deurwinterde gelowiges aangaan. Ons kan in een oogwink sien of ons geestelik bly groei het. As daar geheime dinge soos haat, ontevredenheid, selfsug, egoïsme, wanhoop, veragting, boosheid, rebelsheid, bitterheid of smeulende woede in krisis-oomblikke boontoe kom, weet jy… jy het nie veel gegroei nie! Jy weet nou dat medegelowiges uit jou reaksie op frustrasies, krisisse en versoekings kan aflei of jy geestelik groei of nie; dat jy self uit jou reaksie op hierdie dinge kan aflei of jy ver van God of naby aan Hom is. Met jou gebedslewe, jou kennis van die Woord, jou gehoorsaamheid, jou toewyding, jou liefde vir God en jou naaste en jou blydskap in die Here gaan dit nie soos God teen hierdie tyd van jou kan verwag nie. “Wag ‘n bietjie,” sê jy. “Buitefaktore soos werkverlies, onredelike eise, huweliksongeluk, kinders, finansiële probleme, werksdruk en stygende lewenskoste maak dit vir my moeilik om geestelik te groei.” Maar eintlik lê die fout nie buite ons nie. Die fout lê binne-in ons, by ons “smeltdrade” of emosies. Ons foutiewe emosies veroorsaak kortsluitings in ons geestelike lewe. In slegte tye redeneer ons: Watter nut het dit om liefde uit te straal wanneer ek soveel onreg moet verduur? In plaas daarvan dat die Evangelie van vergifnis deur ons stroom, brand die smeltdrade uit. Ons groei nie in liefde, vergewens-gesindheid, hoop en geloof soos wat God van ons verwag nie. Hoeveel gesoute gelowiges versink nie maar weer in geestelike moedeloosheid nie. Weg is die blydskap in die Here, weg is die geloof en die hoop. Twyfel neem die plek in van geestelike groei en groeiende hoop; die eens so toegewyde gelowige veragter in die geloof en begin weer terugval in sy/haar sondige bestaan van vroeër. Vir elkeen wat in geestelike doods-heid verval het, sê God, soos vir die gemeente van Sardis: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van My God nie. Dink daaraan hoe julle die Evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle (Op. 3:1-3). KIES JY VIR GEESTELIKE GROEI, NUWE GELOWIGE? Dié verhaal van Tania B (‘n skuilnaam) se keuse vir geestelike groei is waar: Tania het álles probeer: sy het dwelms gebruik, rondgeslaap, wilde partytjies bygewoon, “you name it”. “Dit is nogal ‘n duur lewenstyl,” vertel sy. “Later het ek nie meer geld gehad nie.” ‘n Geskeide prokureur het op haar verlief geraak en hom oor haar en haar twee jong kinders ontferm. Hy het haar woonstelhuur betaal en gereeld vir haar kruideniersware gekoop. Sy het baie naweke in sy huis deurgebring en by hom geslaap. Toe kom sy radikaal tot bekering. “Ná my bekering,” sê sy, “het ek geweet dat ek nie meer by my ou sou kon slaap nie. Ek sou die gerief en die sekuriteit wat hy my bied, moes prysgee, want hy het ver van die Here geleef. Hy het my uitgelag toe ek vir hom sê God het my as Sy kind aangeneem. En dat ek saam met hom nie geestelik sou kon groei nie.” Tania som haar belewenis van bekering en wat daarop volg, só op: “Die mens kan nie ‘n duimnael se wit bydra tot sy/haar verlossing nie. Daarom sê die Bybel in 1 Petrus 1:18-19: Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. “Ek het ontdek dat bekeerde mense geestelik moet groei. Ek wíl gees-telik groei, want die Heilige Gees werk in my. Ek weet nou ‘n geredde mens wil as ware dissipel van Jesus leef. Ek kan nie meer doen wat ek wil nie. Ek leef nou in die huisgesin van God in die Teenwoordigheid van my Vader, my Redder, en die Heilige Gees.” Tania is reg. Bekeerde mense moet saam met ander gelowiges groei in reinheid en heiligmaking, in nederigheid en in hoop, sodat Jesus Christus deur hulle lewe verheerlik kan word. Ons moet Sy Woord beter leer ken, sodat ons ander na Hom kan lei. Ons moet lief word vir gebed, juis omdat ons die wil van God wil ken. Ons lewe en gedrag moet deur die Heilige Gees beheer word - nie deur ons eie emosies en wil nie - sodat God ons kan gebruik. “Paulus gee ‘n pragtige beskrywing van gevorderde geestelike groei in Efesiërs 4:13,” sê Tania. “So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, Sy kerk, soos 'n vol-groeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.” Hoe meer ons geestelik groei, hoe meer kan ons die dinge wat werklik saak maak, raaksien. Hoe ernstig het Paulus nie gebid dat die bekeerlinge van Filippi (en alle ander gelowiges), deur die proses van geestelike groei moet gaan nie: Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberis-pelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot Sy lof en eer (Filippense 1:9-11). Tania sê: “Om geestelik te groei, is om al hoe meer soos Jesus op te tree, maak nie saak wát jou tref en wát jou ontstel of irriteer nie.” Het jy geweet dat elke ware bekering gevolg word deur die begeerte om geestelik te groei en al hoe sterker in jou geloof te word? En dat jou begeerte om geestelik te groei nie uit jouself is nie? Dit is ‘n teken dat die Heilige Gees jou nie ná jou wedergeboorte en bekering aan jou eie lot oorlaat nie. Hy het ook jóú Leidsman en jóú Helper geword, die geliefde Versorger van elke wedergeborene. Dit is die Heilige Gees wat jou elke dag bereid maak om die groot gebod as jou lewensgebod te aanvaar: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat (Matt. 22:37-40). Ons is nie soos stilstaande water ná ons bekering nie. Die drie-enige God wil hê ons geestelike lewe moet soos 'n bruisende rivier wees wat sterk vloei en al hoe groter word as gevolg van die méér kennis en insig, méér geloof en blydskap, méér liefde en kennis van God wat in ons invloei. Christelike Lektuurfonds Privaatsak X19, Wellington, 7654 Tel: 021 873 6964 |