VRY VAN ALKOHOL!!!
 
Joggie

Joggie Roets, Stilfontein
079 546 9336

Gedurende Augustus 2007 het ek in die hospitaal beland a.g.v. alkohol-vergiftiging. My vrou het op 'n dag vir my gesê dat my rug 'n geel kleur het. Ek het gedink dit was maar net die son se strale wat deur die gelerige gordyn op my rug geskyn het. Daarom was ek ook nie te veel gepla nie en het nog twee drankies gedrink. Dit was die laaste oomblikke dat ek by my bewussyn was.
Toe ek uiteindelik weer bykom, was dit in saal A in die Wilmed-park Hospitaal, Klerksdorp. My vrou het my vertel dat ek in die eerste plek in die Intensiewe Afdeling was, asook in saal B, voordat hulle my na saal A oorgeplaas het. Hiervan was ek glad nie bewus nie.
Ds. Piet Botha en baie ander mense het vir my gebid. My gesig was só geswel en my oë só geel dat ds. Botha besef het dat dit net die Here se genade sal wees as ek oorleef.
Die dokter se bevinding was dat ek lewerversaking gehad het. Die Here het my egter nog 'n kans gegee en my gered van alkohol-verslawing.
Op 8 Mei vanjaar moes ek weer besoek gaan aflê by die internis. Hy het my ondersoek, bloed-toetse laat doen en bevind dat ek gesond is. Hy het gesê dat hy dit in 2007 glad nie sou kon sê nie. Hy het verder bygevoeg dat indien ek enige alkohol of medikasie wat alkohol bevat, gaan inneem dit my lewer gaan aantas en dat ek hom nie eers moet bel nie, maar sommer direk die begrafnisondernemer moet skakel.
Ek is só dankbaar dat die Here my lewe gespaar en my nog 'n kans gegee het. Daarom wil ek graag vir mense waarsku dat alkohol 'n vernietiger is! Ek het my kinders, my meubels en my eerste vrou verloor as gevolg van my alkoholverslawing.
Mense wat my wil kontak, kan my skakel by 079 546 9336.

Indeks     Index