DIE SIELEWENNERSKROON
 
Dr. Alexander Duff was 'n bekende veteraansendeling in Indië. Op sy oudag het hy na sy tuisland, Skotland, teruggekeer om te sterwe.
Gedurende die sitting van die Sinode van die Kerk van Skotland het dr. Duff 'n groot vergadering toegespreek en 'n ernstige beroep op jongmense gedoen om hulle vrywillig aan te bied om as sendelinge na Indië te gaan. Maar daar was geen reaksie nie.
Onder die spanning van die oproep het die bejaarde sendeling flou op die vloer neergesak en is van die verhoog afgedra. 'n Dokter het hom oor die ou veteraan neergebuig en sy hart ondersoek. Skielik het hy sy oë oopgemaak en gevra: “Waar is ek? Waar is ek?”
“Lê stil,” vermaan die dokter, “u hart is baie swak.”
“Maar ek moet my oproep klaar-maak,” val die ou krygsman hom in die rede: “Neem my terug! Ek het nog nie my oproep klaar-gemaak nie!”
Weer het die dokter gewaarsku: “Lê stil. U is te swak om terug te gaan.”
Maar die sendeling wou hom nie laat keer nie. Met die inspanning van al sy kragte het hy op sy voete gekom en met die dokter aan die een kant en die Voorsitter van die Vergadering aan die ander kant, het die grys ou strydros na die verhoog teruggekeer, terwyl die hele gehoor opgestaan het ter ere van sy moed.
Toe hervat hy sy oproep: “Wanneer koningin Victoria 'n oproep doen vir vrywilligers na Indië, is daar honderde jongmanne wat hulle aanbied, maar wanneer Koning Jesus roep, is daar niemand wat wil gaan nie.”
Toe bly hy 'n oomblik stil. Weer vervolg hy: “Is dit waar dat Skotland nie meer seuns het om aan Indië te gee nie?” Weer het hy gewag, maar nog het niemand gereageer nie. Daar was 'n doodse stilte.
Toe neem die ou man 'n groot besluit en onder die geweldige las van Indië se onbereikte miljoene, sluit hy sy oproep af: “Nou goed, as Skotland nie meer jongmanne het om na Indië te stuur nie, dan, oud en afgeleef soos ek is, sal ek teruggaan. Selfs al kan ek nie meer preek nie, kan ek nog op die oewer van die Ganges-rivier gaan lê en sterwe ten einde die mense van Indië te laat weet dat daar in Skotland ten minste een man is wat genoeg vir hulle siele omgee om sy lewe vir hulle te gee.”
Toe die ou veteraan omdraai om die verhoog te verlaat, is die stilte eindelik verbreek. Oral in die ge-hoor het jongmanne op die been gekom en uitgeroep: “Ek sal gaan! Ek sal gaan!”
Na dr. Duff se heengaan het baie van daardie jongmanne wel as sendelinge na Indië gegaan as gevolg van die ou Evangelie-kryger se kommer en las vir die onbereiktes se siele.
Leser, wat van jou? Sal jy gaan? Het jy al die geroep van die onbereikte miljoene gehoor? Het die Heer van die oes aan jou hul nood getoon? Sal jy antwoord: “Here, hier is ek, stuur my!”
Almal kan wel nie gaan nie, maar elkeen kan 'n aandeelhouer wees in die werk wat God baie na aan die hart lê, nl. om siele te wen vir Sy Koninkryk.
Is jy bereid om God se werk op aarde te bevorder deur op een of ander manier daarby betrokke te raak?
Oorgeneem uit “The Message of the Cross”.

Indeks     Index