SES DAE TE LAAT!
 
Op reis in 'n trein vertel 'n handelsreisiger, 'n toegewyde Christen, my hoedat hy op een van sy reise eendag by 'n huis aangekom het waar groot droefheid die vader en moeder getref het deur die dood van hulle sewentienjarige dogter.
Die meisie was baie gewild in haar dorp, maar sy was baie onverskillig aangaande die ewigheid en die redding van haar siel.
Haar moeder het keer op keer by haar gepleit, veral op 'n baie spesifieke dag. Die dogter se antwoord was dat sy miskien eendag in die toekoms daaroor sou dink, maar nie nou nie.
Kort hierna het sy ernstig siek geword en eindelik haar bewussyn verloor. Die dokter is ingeroep, maar het gesê dat hy niks vir haar kon doen nie en dat sy vinnig aan die agteruitgaan was.
So het die dae verbygesnel totdat sy op die aand van die sesde dag haar bewussyn herwin het. Sy het na haar moeder geroep en gevra: "Hoe lank was ek bewusteloos, Ma?"
"Ses dae, my liefling."
"Onthou Ma hoe Ma met my gepraat het en by my daarop aangedring het om my lewe aan Jesus oor te gee en dat ek geweier het?"
"Ja, my liefling."
"Wel Ma, ek gaan sterwe en dan sal hulle 'n klein grafsteentjie op my graf sit met my naam daarop."
Na 'n pynlike stilte vervolg sy: "Ek wil Ma 'n guns vra."
"Wat is dit, my skat?"
"Ma, laat hulle nog iets anders op my grafsteen skryf as 'n waarskuwing aan al die jongmense in die dorp."
"En wat moet dit wees, liefste?"
"Ma, net die vier woorde: Ses dae te laat!"
En so is sy verlore die ewigheid in…
[Uit: Die Kruisgesant, CUM, April 1979].

Leser, het jy al gebruik gemaak van die geleentheid om seker te maak dat Jesus Christus jou eie persoonlike Verlosser geword het?
Besef jy dat, as Hy vir jou gesterf het, jy nie slegs jouself geheel en al aan Hom moet oorgee om vir Hom te lewe nie, maar dat jy Hom as jou Verlosser moet aanneem? Maak seker dat dit nie vir jou TE LAAT sal wees nie!
"Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol" (Jes. 1:18 NV).

Indeks     Index