KOOP 'N DUBBELE SEëN | |
  |
Lees Handelinge 20:31-38 NV). Is jy verbaas oor die vreemde opskrif van hierdie dagstukkie? Ons weet mos geld kan baie doen. Maar ons weet ook dat die beste dinge van die lewe soos liefde, gesondheid, 'n lang en gelukkige lewe en ware blyd-skap, nie deur geld gekoop kan word nie. Hoe kan 'n mens dan 'n dubbele seën koop? Lees weer 'n keer vers 35(b): "Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang." Ons geld in die spaarbank bring 'n bietjie troos en 'n gevoel van veiligheid. Dit is egter eers wanneer ons leer om met ons krag, ons geld en ons goed die Here Jesus te dien, dat dit ons werklik gelukkig maak. Dan koop 'n mens 'n dubbele seën: groter geluk vir jouself en groot blydskap vir ander wat ons hulp dringend nodig het. Hoe weet ons dit? Paulus haal hier die negende saligspreking van die Here Jesus in sy afskeidstoespraak aan die ouderlinge van Efese aan. Die ander agt saligsprekinge staan in die Bergrede (Matt. 5:1-12). Paulus besef dat hy moontlik sy vriende in Efese, waar hy drie jaar lank gewerk het, nooit weer sal sien nie. Daarom herinner hy hulle aan die belangrikste dinge wat die gemeente van die Here Jesus nooit mag vergeet nie. Hulle is duur gekoop (Hand. 20:28), hulle het die Woord met sy boodskap van God se genade wat hulle kan opbou (20:32). Daarom moet hulle oppas vir die vyande van buite en binne, die "wrede wolwe" (20:29) wat die gemeente van die Here Jesus wil verwoes. Een groot vyand van die gemeente is 'n verkeerde liefde vir hierdie wêreld, vir sy mooi goed en vir sy rykdom. Paulus wys die ouderlinge op sy eie voorbeeld. Hy was vry van geldgierigheid en afguns (20:33). Die groot apostel wys hulle sy hande en sê: "Met hierdie twee hande het ek vir my en die mense by my voorsiening gemaak." 'n Kind van God moet hard werk. Die geld wat hy verdien, maak van hom 'n rentmeester. Daarmee moet hy ander help. Dit is die moeilikste deel van ons bekering. Ons maak ons harte oop vir die Here Jesus, maar nie ons beursies nie. Is jou beursie oop vir die Here Jesus? Kom ons gaan staan met ons bankkaart of tjekboek of beursie in die hand by ons klerekas, ons motor, ons ander besittings en sê vandag: "Dit behoort aan U, Here Jesus. Neem daarvan wat U wil hê." Dan word HY waarlik die HERE, die Baas van ons lewe, en waarborg Hy vir ons 'n dubbele seën, want "om te gee maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang." Gebed: Here Jesus, Koning van my lewe, ek dank U dat U alles wat U het vir my gegee het. Neem nou ook alles wat ek het vir U en U diens. Amen. [Uit: Byderwets en Byderwoords, CUM, 1985]. |