GOD SE LIEFLIKE TEENWOORDIGHEID
 
Wilma 018 290 8091
Dinsdagoggende kom ons groepie Bybelstudie-vriendinne altyd saam om meer te leer uit die Bybel en saam te bid vir ons land en vir mekaar. Ons is van verskillende denominasies, maar kan getuig van ware gemeenskap van gelowiges.
Ons was besig om in te tree vir ons skole en dat leerlinge wat die Here dien, sal uitreik na diegene wat Hom nog nie ken en aanbid nie. Ook dat gelowige onderwysers aangestel sal word om kinders na Jesus toe te lei.
Terwyl ons besig was om te bid, het een van ons 'n beeld gesien waarin die Here wys op watter verskillende maniere Hy aan ons Sy hulp, vertroosting en bystand bied. Soms voel ons soos 'n klein kindjie wat sy armpies uitsteek, dan op ons Vader se skoot getel word en saggies teen Sy bors vasgehou word.
Dan is daar weer tye dat ons bid om leiding - dat Hy vir ons die regte pad sal aandui - en dan stap Hy saam met ons, en neem ons hand liefdevol in Syne sodat ons nie bang sal wees nie.
Maar dan is daar dae wanneer Hy Hom verlustig in ons aanbidding en nabyheid en soos 'n vertroude Vriend saam met ons wandel en Sy arm om ons skouers sit en “in die koelte van die aandwindjie” saam met ons gesellig deur die tuin loop! Ons dien 'n wonderlike God!!!
“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief” (Efesiërs 2:4, NV).

Indeks     Index