HOE OM GOD TE VOLG | |
  |
Het jy geweet dat jy al ’n baie, baie lang tyd in God se hart en gedagtes is? Selfs nog voor tyd bestaan het, was jy al in Sy gedagtes. Hy wou nog altyd hê dat jy Hom moet ken in ’n persoonlike, doelgerigte verhouding. Hy het ’n doel vir jou lewe en dis gegrond op Sy groot liefde vir jou. Jy kan verseker wees dis ’n goeie doel en dit hou vir ewig. Ons tyd hier op aarde is maar net die begin. God het ’n wonderlike plan wat terug-gaan tot in die ewige verlede en reik tot in die ewige toekoms. Wat is hierdie plan? Die Skrif is duidelik omtrent God se plan vir die mens: God het die mens geskep om verenig met Hom te leef en te wandel. Een-wees met God beteken om in ’n verhouding te wees wat geheel en al onselfsugtig, geheel en al bevredigend, geheel en al seker, geregverdig en rein is - in alle opsigte. Dis waarvoor ons geskep is. As ons in hierdie soort verhouding met God lewe, sal ons Hom verheerlik en Hom behaag. Die lewe sal volmaak en wonderlik wees! Die mens was bedoel om so te lewe: om God te behaag en Hom te verheerlik (en sodoende ’n ware idee te gee van Wie God is). Adam het gesondig en sy eenheid met God verbreek. Sedertdien ontbreek dit die mens aan die heerlikheid van God: die mens behaag God nie, en kan Hom nie behaag of ’n ware idee van Hom gee nie. Die lewe is nie volmaak en wonderlik voordat ’n mens reg is met God nie. Dis baie duidelik as ons kyk na die baie mense van wie ons lees in die Ou sowel as die Nuwe Testament. Jesus Christus het gekom as die oplossing vir hierdie dilemma. Hy is die Heerlikheid van God, in elke opsig die Ware Beeld van Wie God is. Hy het Sy Vader behaag in alles wat Hy gedoen en gesê het en Hy het gekom om ons met God te versoen. Hy het gekom om aan die mense Sy krag en genade te gee om in eenheid met God te lewe, Hom dag na dag te volg en die verhouding te geniet waarvoor hy geskep is. In die proses kan die mens ’n ware beeld begin uitstraal van Wie God is en dit beleef om Hom persoonlik te erken. Jy vra dalk: “Hoe beïnvloed hierdie feite my lewe vandag? Hoe word dit vir my ’n werklikheid? Hoe kan ek die reis begin om God op hierdie manier te volg?” Om God persoonlik te leer ken, beteken jy moet kies om Jesus Christus aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Here. Eerstens moet jy erken dat jy gesondig het, dat jy nie in eenheid met God lewe nie en Hom nie behaag of verheerlik deur jou lewe nie (Rom. 3:23; 6:23; 8:5-8). Dit beteken jy moet berou hê oor jou sonde - anders begin dink, jou tot God wend en jou rug keer op die sonde - en Sy vergifnis, gebaseer op Sy kruisdood vir jou, in geloof aanvaar (Rom. 3:21-26; 1 Petrus 3:18). Dit beteken dat jy jou lewe oopstel om Hom te ontvang as jou lewende, opgestane Here en Verlosser (Joh. 1:12). Hy het belowe om te kom en deur Sy Gees in jou te woon en te lewe as die Verlosser en Meester van jou lewe (Joh. 14:16-21; Rom. 14:7-9). Hy wil Sy lewe deur jou leef; jou verander na Sy Beeld; Sy vrug deur jou dra en jou die krag gee om oorwinnend te leef (Joh. 15:1, 4-8; Rom. 5:17; 7:4; 8:29, 37). Jy kan nou na Hom toe kom. Vertel Hom eenvoudig in jou eie woorde dat jy Hom graag persoonlik wil ken en dat jy gewillig jou sondes bely en Sy vergifnis en Sy lewe ontvang. Sê vir Hom jy wil Hom vir altyd volg (Rom. 10:9-10,13). Welkom by die huisgesin van God en by die wonderlikste reis wat daar is! [Uit: Vroue van die Bybel, Wayne Barber, Eddie Rasnake, Richard Shepherd, CUM, 2007]. |