VERSPEELDE KANSE | |
  |
Dwight Moody, die bekende opwekkingsprediker, vertel van dié keer toe hy 'n groot skare toegespreek en hulle vertel het van die verlore toestand van die wêreld en die oordeel van God. Die aand het lank begin word, en Moody het vir die mense gesê dat hulle almal weer die volgende aand moes kom sodat hy hulle van verlossing en die Verlosser vir hierdie wêreld kon vertel. Dit het egter nooit gebeur nie. Daardie aand het die saal waarin hulle bymekaargekom het tot op die grond afgebrand. Moody het nooit weer daardie spesifieke skare mense gesien nie! Hy het homself vir jare daarna steeds verwyt dat hy nie die eerste aand gebruik het om hulle van die Verlosser te vertel nie. Dit was 'n verspilde geleentheid, 'n verspeelde kans! Liewe leser, het u al die Here Jesus as u Verlosser en Saligmaker aangeneem? Moenie uitstel nie. Hy staan by die deur van u hart en klop omdat Hy lief is vir u. Hy sê: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol” (Jes. 1:18). |