SKATTE UIT DIE PSALMS
  'n Mens kan slegs jou ware self openbaar as jy eerlik sê hoe jy voel en wat jy dink. Dan eers kan hulp op 'n diep geestelike vlak verleen word.
Die oppervlakkige kommunikasie wat by so baie mense 'n lewenspatroon geword het, kenmerk ook dikwels ons omgang met God. Ons rammel die woorde wat ons al soveel dekades ken, vinnig af, of sê 'n paar geykte dinge - en noem dit dan gebed. Natuurlik hoor en verstaan Hy ook ons floue pogings, maar as ons ons kommuni-kasie met Hom in so 'n mate vervlak, kortwiek ons ook ons verhouding met ons Vader. Hy ken ons en wil hê dat die kommunikasie tussen ons en Hom eg en betekenisvol moet wees.
As 'n mens jou Bybel naastenby in die middel sou oopslaan (middel aan die dikte gemeet en nie ten opsigte van die aantal boeke nie), sal jy dit waarskynlik by Psalms oopmaak. Hierdie grootse versameling liedere en gebede is 'n weerspieëling van die menslike hart en siel. Die hele spektrum van die mens se ervaringsveld kom daarin tot uiting. Hierdie Psalmboek bevat nie geykte woorde nie - nee, die skrywers stort hulle ware gevoelens hier uit en skets daardeur vir ons die dinamiese, kragtige en lewensveranderende verhouding wat hulle met God het.
Die psalmdigters bely hulle sondes, gee uiting aan hulle twyfel en vrees, vra God se hulp in tye van nood en loof en prys Hom.
Lees hierdie boek en hoor in jou gedagtes hoe gelowiges uit die dieptes van wanhoop tot God roep. Maar hoor ook hoe hulle Hom in hulle feesvieringe loof. Of hulle woorde egter van wanhoop of lof getuig, die psalms bly deurgaans uitinge van die opregte emosies van God se kinders. Omdat dit so 'n eerlike boek is, kom mense deur die eeue heen steeds terug daarheen vir troos in tye van nood en beproewing. Saam met die psalmdigters word hulle dan ook van wanhoop tot blydskap opgehef as hulle die krag van God se ewige liefde en vergifnis ontdek.
Laat die eerlikheid van die psalmdigters jou lei tot 'n dieper en egte verhouding met God!

Op soek na? Lees…
* troos Psalm 23
* om God intiem te ken Psalm 103
* om 'n nuwe gebed te leer Psalm 90
* om 'n nuwe lied te leer Psalm 33
* om meer omtrent God te leer Psalm 24
* om jouself beter te verstaan Psalm 8
* om te leer hoe om elke dag tot God te nader Psalm 5
* om vergifnis van sonde te vind Psalm 51
* om te voel dat jy iets beteken Psalm 139
* om te verstaan waarom jy die Bybel moet lees Psalm 119
* om God te loof Psalm 145
* om te weet dat God in beheer is Psalm 146
* om God te dank Psalm 136
* om God te behaag Psalm 15
* om te weet waarom jy God moet aanbid Psalm 104

God se Woord is daar sodat ons dit kan bestudeer, verstaan en toepas. Die boek Psalms leen homself op 'n besondere manier tot toepassing. Ons verstaan die psalms des te beter as ons hulle toelaat om soos reënwater oor ons te spoel. Ons blaai dalk na die Psalms om iets te vind, maar dan ontmoet ons Iemand. Hoe meer ons die woorde van die psalms memoriseer, hoe meer sal ons besef dat hulle alreeds deel van ons is. Ons diepste seer, verlange, gedagtes en gebede word hier verwoord en die psalms lei ons sagkens daartoe om te wees wat God wil hê ons moet wees: mense wat Hom liefhet, vir Hom lewe en Hom prys.
[Uit: Die Bybel in Praktyk, CUM, 1993].

Indeks     Index