UIT DIE VUUR GERUK! | |
  |
John Wesley se pa, Samuel, was self ook 'n leraar, en een nag het daar 'n brand in die pastorie uitgebreek. Klein John was toe maar ses jaar oud en vas aan die slaap op die boonste verdieping. Die vlamme het hom vasgekeer en niemand kon hom oënskynlik meer red nie. Twee jong mans het na die huis gehardloop, die een het op die ander een se skouers geklim en John letterlik sekondes voordat die hele huis inmekaar sou stort, by 'n venster uitgetel.
John se pa het saam met die mans en klein John op die grasperk buite die huis gekniel en God gedank wat die redding bewerkstellig het. Daar en dan het die pa sy seun vir die Here teruggegee en gebid dat God hom op die pad vorentoe sal gebruik. Dié dag sou John Wesley nooit vergeet nie! Dit was 9 Februarie 1709. Die dag van sy redding.
Vir jare daarna het Wesley steeds na homself verwys as iemand wat deur die Here uit die vuur geruk is om God te kan dien. Hy het 9 Februarie elke jaar as 'n dankdag deurgebring. Dit was 'n herinnering aan wie hy was en waarom hy lewe, 'n soort bevestiging dat God hom wou gebruik. Wie is ek? Wie is u? Waarom leef ek op aarde? Waarom leef u op aarde? Wat moet ek met my lewe doen? En u? Wat verlang God van ons? Kom ons buig voor Hom neer, soek Sy Aangesig en wag op Hom totdat Hy Sy wil vir elkeen van ons se lewens aan ons openbaar! (Red.) |