DIE HANDDRUK | |
  |
![]() Wat beteken 'n vriendelike woord of warm handdruk van 'n mede-mens tog nie vir jou as jy met die een of ander moeilikheid worstel nie? In sulke omstandighede is opregte belangstelling en 'n gebaar van meegevoel dikwels vir 'n mens van meer waarde as die gulhartigste materiële aanbiedinge. Ek dink in hierdie verband aan drie treffende gebeurtenisse wat waarskynlik aan baie van ons bekend is. Paulus moes ontsettend eensaam gevoel het toe hy ná sy bekering tot die Christelike geloof in die Siriese stad Damaskus aangeland het. In Jerusalem was hy 'n man van aansien, 'n aristokratiese Jood, 'n Hebreër uit die Hebreërs. Nou breek hy met sowel dié prestige as sy vroeëre vriende. Hy stap Damaskus binne sonder 'n vriend. By niemand kan hy aanklop om hulp en raad nie - die Christene by wie sy toekomstige tuiste sou wees, was nog bang vir hom en bejeën hom met agterdog. Sonder 'n vriend in die wêreld, eensaam, en met 'n onbekende toekoms voor hom. Juis op hierdie donker tydstip daag Ananias, die leier van die Christelike gemeenskap van Damaskus, by hom op. Hy lê sy hand op Paulus en sê vir hom: “Saul, broeder...” (Hand. 9:17). Wie kan bereken wat hierdie aanraking, dié broedergroet vir Paulus beteken het en watter bydrae dít gelewer het tot die ywer waarmee hy later die Evangelie na verafgeleë gebiede gedra het? In die lewe van Luther gebeur daar iets dergeliks. Hy moet voor die Ryksdag van Worms verskyn. Dit is 'n krisis-uur vir die Hervorming, en 'n uur waarin Luther alleen die stryd vir waar-heid en vryheid moet voer teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk. En toe, net voordat hy die vergadering sou binnestap, kom daar iemand by hom staan wat vir hom tot groot onder-skraging was: die gevierde ou generaal Frundsberg. Hy sit sy hand op Luther se skouer, en sê: “My arme monnik! My klein monnik! Jy is besig om 'n stryd te begin wat groter is as al die gevegte waarin ek en my helde betrokke was. Gaan voort in die Naam van die Here, en hou goeie moed: God sal jou nie verlaat nie!” 'n Hand op sy skouer, 'n bemoedigende woord... Wie kan sê wat dít vir Luther beteken het, watter bydrae dit gelewer het tot die Beweging wat die loop van die geskiedenis verander het? Van Tolstoi word vertel dat hy eendag 'n bedelaar in die strate van Moskou raakgeloop het. Die arme man was koud en honger, en in sy ellende het hy sy lelike, growwe hande bedelend uitgesteek. Tolstoi het gaan staan, en sy sakke deursoek na 'n geldstukkie. Hy het ongelukkig niks by hom gehad nie. Met opregte meegevoel sit hy toe maar sy hand op die skouer van die bedelaar en sê: “Ek is jammer broeder, maar ek het niks by my nie.” “Toemaar broeder,” was die ou bedelaar se antwoord, “ek dank jou. Hierdie is ook 'n geskenk.” Tússen ons, en náby ons, is daar mense wat alléén staan. Sommige staan alleen in hul stryd teen die sonde. Ander is eensaam op die pad van beproewing en lyding. Baie gaan gebuk onder die verant-woordelikhede wat vir hulle opgelê is. Laat ons onthou: Daar is krag in 'n vriendelike woord. Daar is 'n boodskap in 'n handdruk! “...Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou...” (Hand. 3:6). [Uit: 'n Handdruk in die Herfs, Dr. HJ Piek, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad]. |