'N RUSIE OOR KRUMMELS | |
  |
'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol en rol totdat dit 'n entjie verder tot stilstand kom. 'n Stukkie het egter afgebreek en in die straat bly lê. Drie mossies pyl af op die stukkie wat afgebreek het en 'n hewige bakleiery breek los. Een kry die oorhand en begin die krummels gretig oppik terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan sit. Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie, want hulle was te besig om oor die krummels te baklei! Ons mense maak ook rusie oor klein dingetjies en ignoreer dít wat eintlik belangrik is. Oor nietighede word ons vir mekaar só kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word. Voordat ons oor 'n paar krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die hele brood raak! Die krummels is nie die gevolge van die twis werd nie! Liewe Heer, Help my om vandag te onderskei tussen krummels en daardie dinge wat werklik saak maak! Amen. |