KOM ONS KYK MET ANDER Oë NA DIE "TIEN GEBOOIE"
  As EK werklik die éérste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode wil dien nie.
As EK werklik in jou hart woon, sal dit nie nodig wees om gesnede beelde van My te maak nie, want jy sal self My Beeld dra!
As jy My waarlik liefhet, sal My Naam nooit 'n vloekwoord oor jou lippe kan wees nie, maar sal jy dit onder alle omstandighede eerbiedig en respekteer.
As EK die ereplek in jou lewe beklee, sal die Rusdag die hoogtepunt van die week vir jou wees. Dit sal vir jou 'n vreugde wees om My te aanbid in die gemeenskap van ander gelowiges. Dit sal 'n dag wees om na uit te sien! As EK werklik in jou lewe is, sal dit vir jou 'n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal nie vir jou moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies het!
As jy My liefde jou eie gemaak het, sal jy nooit iemand wil seermaak of haat nie, wat nog te sê doodmaak! As jy My waarlik liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. As EK werklik die eerste plek in jul huwelik beklee, sal julle mekaar opreg liefhê en koester soos EK julle opreg liefhet en koester.
As EK op die troon van jou lewe sit, sal jy daagliks vra: 'Aan wie en wanneer kan ek aan ander iets gee? Jy sal nooit iets van 'n ander wil steel nie!
As EK in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van 'n ander kwaad te praat nie. Deur My Gees sal jy 'n mens wees wat van 'n ander niks sal sê as dit nie iets goeds is nie! As jy één met My is, sal My Gees jou soveel innerlike tevredenheid gee sodat jy vergenoegd sal wees met wat jy het, en jy sal besef dat EK altyd genoeg gee sodat jy niks kortkom nie!

Indeks     Index