VERHOUDINGS | |
  |
Keer op keer wanneer ek by my studio / kantoor instap, voel ek sleg omdat ek dit net nie netjies kan kry nie - en dan kom herinner Salomo my dat ‘n skoon stal nie beeste in het nie (Spreuke 14:4)! Ek het dan so pas die uur wat ek eenkant gesit het vir netjies maak, spandeer aan ‘n Skype-gesprek met iemand wat seer is en ondersteuning nodig het. Verhoudings is belangriker as ‘n ‘skoon stal’! Dit laat my dink aan die keer toe ek gaan help tee skink het na die begrafnis van ‘n vrou wat self-moord gepleeg het - haar huis was hipernetjies, selfs die kombuis-kaste en -laaie was eksie-perfeksie, maar haar lewe het vir haar so betekenisloos gevoel dat sy besluit het om ‘n einde daaraan te maak. Die Bybel moedig my aan om heeltyd gereed en toegerus te wees om dit wat ek ontvang het, uit te deel - vryelik, soos wat Jesus dit kom doen het. Om vergifnis en liefde te gee, om diensbaar te wees - maar ek word so maklik gekniehalter deur my eie kleinserigheid en kleinsielig-heid. Daarom bly my verhouding met God die spilpunt waarom alle ander verhoudings draai - die voedingsaar van inspirasie en krag, van léwe! Rick Warren herinner ons in The Purpose Driven Life daaraan dat, om in ‘n vriendskapsverhouding met God te leef, beteken dat ek alles met Hom deel. Ek kan Hom in elk geval nie beïndruk nie; Hy ken my deur en deur. Daarom kan ek by Hom, soos by ‘n goeie vriend, ontspan in die wete dat Hy my aanvaar het as Sy vriend. Ek kan kla en ek kan my foute erken en Hom dan vertrou om my te vergewe en te help om my foute en my sondige reaksie op ander se foute te bowe te kom, en meer soos Jesus te reageer. Hierdie verhouding met God is die kosbaarste gawe wat ek kan ontvang. Dit het Hom álles gekos om dit vir my moontlik te maak om Sy vriend, Sy kínd genoem te word. Johannes 15:15 en Romeine 5:10 noem ons vriende van Jesus, vriende van God. En as ek elke dag nie net ‘n stukkie lees en bid nie, maar oomblik tot oomblik saam met Jesus stap, my gedag-tes met Hom besig is, ek aan Sy woorde herkou, ontdek ek dat ek ? reserwe van krag en liefde het, die nodige insig en wysheid het om elke uitdaging of krisis die hoof te bied. Dan is my knorrige man, my PMS-vrou, my moeilike tiener, my baas wat vandag ekstra foutvinderig is, 'n geleentheid waar ek vanuit die geborgenheid van die aanvaarding en onder-steuning wat die Here my gee, op my beurt weer aanvaarding en ondersteuning kan gee waar dit menslik feitlik onmoontlik lyk! Gebed: Here, dankie dat U my aanvaar en liefhet. Ek wil hierdie vriendskapsverhouding met U koester sodat ek nader aan U kan groei, meer en meer soos U kan word. Vraag: Het jy al vandag kontak gemaak met die Here en vir Hom vertel dat jy Hom liefhet en waardeer? Elmarie van der Westhuizen |