OM 'N DISSIPEL VAN JESUS TE WEES...
  ‘n Duitse prediker en teoloog in die oorlogsjare, Dietrich Bon-hoeffer, het gesê: “Christianity without discipleship is always Christianity without Christ”. So was die oorgawe van Levi in Markus 2:14 volkome: “En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg”. Toe hy die roepstem van Jesus hoor, het hy alles verlaat en Jesus gevolg.
Dit het hy gedoen, nie om voordeel daaruit te trek nie, maar ter wille van die roeping. Eers toe hy alles van sy ou lewe verlaat het, kon hy waarlik bestaan in ‘n nuwe lewe - ‘n lewe van dissipline in Jesus Christus. ‘n Lewe wat Hom alleen kon behaag. Sy ou lewe het hy agtergelaat en homself volkome oorgegee aan Jesus. Sy dissipelskap het hom uit sy bepaalde sekuriteit uitgeneem na absolute onsekerheid - ‘n lewe van volkome afhanklikheid van Jesus, waar hy algehele en groter sekuriteit gevind het.
Niks anders was meer van belang nie. Al betekenis wat sy lewe nou gehad het, was dit wat hy in Jesus gevind het. Wanneer die Here roep, laat Hy egter ruimte vir ons eie wil en vrye keuse. Hy dwing niemand nie. Wanneer ons verkeerd kies, sal ons self die gevolge daarvan dra. Indien ons reg kies, sal ons ook die vrug van hierdie regte keuse pluk. Dit was altyd so, selfs ten tye van die Wet, dat niemand gedwing was om die Wet te onderhou nie. Maar indien hy dit gedoen het, was daar seën. Indien hy daaraan ongehoorsaam was, sou hy moes sterf.
Dit is nog steeds so. Hy roep, en ons het die keuse om te gehoorsaam.
Om vir God beskikbaar te wees, beteken om voortdurend met Hom in gebed te wandel. Gebed is die voortdurende versterking van ons geloof wat ons in staat stel om altyd vir Hom “Ja” te sê. Selfs só ‘n gebedswandel met Hom is ‘n vrye keuse.
‘n Vrye keuse moet opgevolg word met die ondersteuning van Sy kragtige hand om hierdie voorneme, hoe vas ook al, uit te voer.
Dissipelskap is daaglikse gehoorsaamheid aan God se stem. Elke dag verg opnuut ‘n wilsbesluit en ‘n keuse van ons. Kom ons kies om God gehoorsaam te wees en bekend te staan as ware dissipels van Christus.
- Dr. JJ Venter

Indeks     Index