DROME AAN SKERWE | ||
  |
![]() Wanneer ons op 'n plek en tyd in ons lewe kom waar ons drome aan skerwe lê en ons gekonfronteer word met tye van verbysterende seer en wanhoop, ervaar ons tussen die seer en chaos bystand van kosbare vriende wat ons seer en pyn ligter gemaak het. Indien jy 'n lys moes maak van hierdie kosbare vriende, sou Jesus bo aan jou lys gewees het? Of voel jy soms Hy het jou vergeet? Hy was nie daar toe jy Hom die nodigste gehad het nie? Getsemane: Verlate in Sy pyn Jesus was in die Tuin van Getsemane in Sy grootste nood en benoudheid alleen en sonder Sy kosbaarste dissipels wat saam met Hom moes waak en bid! Nadat Jesus drie maal gebid het, het Hy opgestaan uit hierdie siele-smart en pyn en die lydenspad begin stap met 'n vaste geloof en vertroue dat SY Vader se plan met SY lewe volmaak is en dat SY Vader volkome in beheer is! Ons stryd Waarheen gaan ons wanneer stukkende drome en wanhoop ons wil oorweldig? Gaan jy na jou Tuin van Getsemane om daar in gebed met jou Vader te praat? Gestroop van alles, sonder woorde, net in gebrokenheid aan Jesus se voete. Gebrokenheid en desperaatheid is NIE 'n lekker plek om te wees nie, maar dit is 'n goeie plek. Want dit is 'n plek waar al die ander stemme van die wêreld en van vriende stil word. Ook ons eie planne en ons eie stem - sodat ons daar by Sy voete, Sy Stem kan hoor! Ons kan nie deur ons trane sien nie en kan nie deur die geklop van ons pyn God se Stem en SY plan herken nie, maar God is besig om die dekor op te stel en ons voor te berei vir SY volmaakte plan en pad met ons lewens! Soos met Noami, wat haarself Mara genoem het, wat “bitter” beteken. Sy kon nie verder sien as haar stukkende drome nie, maar deur dit alles heen was God aan die werk en later is haar kleinseun, Obed, gebore. Obed beteken 'n “seun is vir Naomi gebore.” Nuwe hoop, nuwe vreugde! Wanhoop word Hoop Jesus het in Sy donkerste uur in gebed met smeking en trane na Sy Vader gegaan. Daarna was Hy van God verlate aan die kruis, sodat óns nooit weer van God verlate hoef te wees nie! Na Sy donkerste uur het die dag gebreek en is die duisternis oorwin! Hou vas aan Hom, hou aan bid, hou aan klop en soek. Hy sál antwoord. Laat Hom toe om wanhoop in hoop te laat oorgaan. Hy is jou beste Vriend en sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie! Mag jy deur jou stukkende drome en smeekgebede, God se Stem hoor wat sê: “Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel.” (Psalm 31:25). En ook: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek!” (Psalm 30:12). - Susan Foord mawico@mweb.co.za |