WEES VOLUIT CHRISTEN!
  Jakobus vertel nie wat ‘n mens moet doen om gered te word nie, maar wat jy moet doen as jy klaar gered is. Hy verduidelik hoe 'n Christen se alledaagse lewe moet lyk.
Jy moet iets doen wat die moeite werd is met die lewe wat die Here jou gegee het. Jy moet sinvol leef. Dit beteken om te leef soos die Here wil hê dat jy moet leef.
Jakobus vertel dat ‘n mens die lewe op een van twee maniere kan benader: òf uit jou menslike begeertes, òf deur te vra wat God van jou verwag.
Dinge wat vir mense baie belangrik is, kan skielik ook vir jou vreeslik belangrik word, byvoorbeeld geld of status. As jy só na die lewe kyk, sal jy en jou eie belange natuurlik ook al hoe belangriker vir jou word.
As iemand iets doen waarvan jy nie hou nie, is daardie persoon in die moeilikheid. Dan dam jy die persoon by en reken met hom of haar af.
Hierdie menslike, selfgesentreerde manier om die lewe te beskou, is heeltemal verkeerd. Dit is nie hoe God wil hê dat jy moet leef nie, sê Jakobus. Die Christen is geroep om anders te leef en anders na die lewe te kyk.
Die regte manier om die lewe te beskou, is God se manier. As gelowige moet jy dinge sien soos Hy dit sien. Vir Hom is sake soos geld of menslike status nie belangrik nie, want dit gaan nie baie lank hou nie. Om jou hele lewe dááraan te wy is nie die moeite werd nie!
By God is alle mense gelyk en daarom mag die gelowige nie toelaat dat party mense swaarkry nie. Hulle moet help waar hulle kan en nie net praat oor hoe hulle miskien gaan help en dan daarvan vergeet nie.
Jakobus waarsku dus dat ‘n mens nie net oor jou godsdiens moet práát nie, maar jou godsdiens in dade moet uitlééf. As jy die lewe beskou soos God wil hê dat jy dit moet sien, sal daar geen begeerte by jou wees om jou wil op ander af te dwing of met hulle te baklei nie. Soek liewer God se wil en wysheid. Jakobus wil ons leer om regtig voluit Christen te wees!
[Uit: Die Boodskap, Jan van der Watt, Stephan Joubert, CUM, 2006].

Volgens oorlewering het Jakobus (die Regverdige) geweier om sy geloof te verloën en is by die Tempelmuur afgegooi. Hy het die val egter oorleef, maar is met ’n knuppel doodgeslaan. Hierdie spits is moontlik dieselfde plek waar Jesus deur die duiwel versoek is.

Indeks     Index