GOD IS DIE SKEPPER VAN HOOP! (Twee Mossies Vir 'n Sent) | |
  |
Anette Marais sit op 'n stomp en skud die stof van haar verslete klere af. Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net 'n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag met God geworstel en Hom gesmeek vir 'n boodskap om hierdie vrouens mee te bemoedig, want wie weet hoe lank nog… Anette lees die woorde van Matt. 10:29 - “Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.” (“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie” - Nuwe Afr. Vertaling). Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar 'n vaal, klein mossie op haar skouer. Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, ‘n teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie. Dit was fantasties om in die maande wat volg, te sien hoe die mossies van Bethulie ‘n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens. Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis by ‘n invloedryke vrou aangedoen en haar vertel van die “mossie-boodskap”. Sý het dit weer oorvertel en genl. Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (‘n kwart-pennie) laat verskyn. Daar word vertel dat Jak de Priester amper 80 jaar later in 'n park in Londen gesit het. Sy geld was op. Hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome, en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie-boodskap” en bid vir die soveelste keer vir werk! Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ‘n lang dag se onderhoude. Moeg, maar gelukkig en met ‘n permanente werk, klim hy weer laatmiddag op die trein. Toe hy inklim, sien hy ‘n muntstuk op die vloer lê. Hy tel dit op, en daar op ‘n trein in Londen hou hy ‘n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand - met 'n mossie agterop! Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stilstaan het en dat hy besef het dat God daar by hom op die trein was en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld. Vandag, ‘n hele paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ‘n 1c neer vir my vriendin met bors-kanker, nog ‘n 1c vir huwelike wat wankel, ‘n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkelouers en weduwees, en ek besef die “mossie-boodskap” is dalk net een versie in ‘n dik Bybel, maar dit spreek van ‘n almagtige, liefdevolle God wat ons vertroosting en hulp belowe! Gebed: Here, dankie dat daar altyd hoop is! Dankie vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees terwyl ons op U wag om ons omstandighede te verander. Amen. (Geskryf deur Rosa Duvenhage wat dit uit ‘n nuusbrief van Anna Eksteen geneem het.) Bronne: https://www.facebook.com/Die ChristenVrou/posts/360075987428448 Admin@friKos, 3 Julie 2013 INTERESSANTHEIDSHALWE: Die mossies op ons nederigste muntstuk het sy oorsprong in die Anglo-Boereoorlog gehad. Die vroue in elke konsentrasiekamp het ‘n “oorlewingstema” uit die Bybel gehad. Bethulie s’n was Matteüs 10:29 en 31 wat in die nuwe Afrikaanse vertaling lui: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” Die kampvroue het ‘n belofte gemaak dat, indien Suid-Afrika ooit ‘n oortjie, kwartpennie, stuiwer of sent uitreik, hulle sou probeer om die mossies as hul simbool van hoop en geloof daarop te laat uitbeeld. Ná die aanbreek van Vrede op 31 Mei 1902, het die kampvroue na hul plase teruggestap. ‘n Sekere mev. Marais van die plaas Vlak-fontein, tussen pres. M.T. Steyn se plaas Onze Rust, suid van Bloemfontein en Reddersburg, het op die agterstoep van Onze Rust aangegaan waar sop en brood vir die terugkerendes gereed gestaan het. Sy het mev. Tibbie Steyn gevra om dié Bybelversies op die land se nederigste muntstuk te laat uitbeeld uit dank aan die Skepper wat hulle die oorlog laat oorleef het en om die mans wat geveg het, aan hul waarde te herinner. Mev. Steyn het die saak opge-neem. Ná ‘n stryd van jare het in 1923 twee gewone mossies met die hulp van genl. Jan Smuts, destydse premier, op die keersy van die kwartpennie (stuiwer) verskyn om elke Suid-Afrikaner aan sy of haar waarde in die oë van die Skepper te herinner. In dié ontwerp van Kruger Gray het die twee mossies vir mekaar gekyk. Dit het Suid-Afrika, sover bekend, die enigste land ter wêreld gemaak wat ‘n Bybelvers op ‘n munt uitbeeld. In 1961, ná desimalisering, het dieselfde ontwerp op die nuwe halfsent verskyn. In 1965 het ‘n nuwe 1c verskyn waarop twee mossies, die een skuins bokant die ander, op ‘n takkie sit en van mekaar af wegkyk. Dié ontwerp van Tommy Sasseen is gegrond op ‘n skildery van Dick Findlay. Dieselfde ontwerp is ook gebruik op halfsente wat ná 1970 gemunt is. Met die koms van ‘n nuwe munt-reeks in 1991 het die mossies op die nuwe 1c weer vir mekaar gekyk. Dit was ‘n ontwerp van William Lumley wat op die oor-spronklike 1923-ontwerp gegrond is. Selfs nadat ‘n nuwe politieke bedeling in 1994 tot stand gekom het, het die mossies op ons nederige 1c-stuk gepryk. http://blogs.litnet.co.za/avega/2011/10/19/more-is-d-dag/ |