DIE HERE ONS VERTROOSTER | |
  |
![]() Graag deel ek my getuienis met die lesers van “Goeie Nuus” oor die wonderlike God wat ons aanbid en hoe hy keer dat Satan 'n gewone mens se vreugde steel. My naam is Louise Els en ek was saam met my man, Marius, woonagtig in Potchefstroom. Marius was verskriklik lief vir diere en daar was voortdurend 'n leeutjie of 'n bokkie wat by ons tuisgegaan het. Marius se liefde het egter wyer gestrek as net klein diertjies. Eendag skakel hy my met die blye nuus dat hy 'n baba-seekoei aangeneem het. Die liewe dierasie se naam was Humphrey. Aangesien ons nooit kinders van ons eie gehad het nie, was die diere ons kinders en Humphrey was Marius se seun. Marius was baie trots op Hum-phrey en het almal genooi om vir sy seekoei te kom kuier. Marius was so lief vir sy diere en hy het sover moontlik daagliks die 100 km plaas toe afgelê om vir Humphrey te gaan kuier. My liewe ouers woon ver in die Noord-Kaap, in Warrenton, en my enigste broer woon in Secunda. As gevolg van die groot afstand kuier ons selde almal as familie saam. My boetie Wynand verjaar 12 November. Vir die eerste keer in 10 jaar het ek en my ouers op Saterdagoggend 12 November 2011 na Secunda gereis om boeta se verjaardag te gaan vier. Marius moes agterbly aangesien muggies die beeste se ore gevreet het, en die boer moes inspring! Gedurende die voorafgaande week het ek en Marius tot laat saans gesels, saam gekyk na die volmaan, en gepraat oor dood en die lewe. Hy het my oor en oor verseker dat as hy ooit iets sou oorkom, die mense naaste aan hom na my belange sou omsien. In daardie selfde week luister ek na 'n CD van Retha McPherson. Dit handel oor Satan wat verwoes, verniel en ons vreugde steel. Na aanleiding van hierdie CD verkondig ek wyd en syd dat Satan nie mý vreugde sal steel nie… min wetend hoe Satan die tyd aftel na 12 November 2011 om my getuienis te toets. Ons klein familie kuier heerlik in Secunda. Marius bel net na 16:00 om te sê hy is op pad na Humphrey. Hy sê vir oulaas: “Ek is lief vir jou”. Ek het geen voorgevoel, geen aanduiding gehad dat dit ons laaste gesprek sou wees nie. Net voor 18:00 verander my lewe onherroeplik! My pa ontvang die oproep… Hy sukkel om op te staan en al wat hy kan sê, is: “My kind, ek is so bitter jammer… Daar was 'n ongeluk. Humphrey het vir Marius dood-gebyt.” God het beskik dat ek nie alleen sou wees toe ek hierdie verskriklike tyding sou kry nie, maar veilig by my ouers en boetie, omring deur hulle liefde en omgee. Op 39 word ek skielik 'n weduwee. Maar God vou my toe in 'n kokon van liefde en vrede wat alle verstand te bowe gaan. God het my beskerm, sodat ek nie Marius se verminkte lyk sou sien, of hoe hy en Humphrey albei koud en dood langs mekaar sou lê nie. In die dood vir altyd saam... Oproepe van die media van die uithoeke van die aarde volg. Baie negatiewe kommentaar - maar Marius sou nie anders wou sterf nie. Hy was by sy liewe Humphrey op die plaas waar hy so gelukkig was! God beskik wonderlike mense by 12 SAI Bataljon en die ASB Weermageenheid in Potchefstroom om die outopsie, begrafnis en nagmerrie-administrasie te reël. MedFour en liewe vriendinne trek laer rondom my. God het beskik dat my tannie en George 'n paar maande vantevore baie naby my kom woon het. Hy het geen detail oorgeslaan in Sy volmaakte plan nie! Satan het egter net begin met sy aanslag… Hy staan voor God en vra dat my getuienis verder getoets moet word: “Sal Louise God nog loof en in vreugde volhard om U te dien, as nie net haar man sterf nie, maar sy ook al haar aardse besittings verloor…?” Op Sondag 13 November kom ek tuis. Binne ure was mense besig om deur ons kaste te gaan, op soek na Marius se testament. Dit was net die begin van 'n nagmerrie-stryd oor die bates in Marius se boedel. Ek het vasgehou aan God se beloftes in Sy Woord dat Hy die weduwee sal beskerm, en aan haar reg sal laat geskied. Sonder ophou herinner ek God aan Sy beloftes en talle mense gaan op hulle knieë voor die Koning van alle konings. Satan teister my en ek vrees dat alles waar-voor ek en Marius so hard gewerk het, besig was om te verdwyn in 'n swart gat van regskoste. Ek het gevrees dat ek my huis sou verloor, maar ek het vasgehou aan Sy beloftes en genade. Tussen die trane deur kon Satan nie my glimlag steel nie. Die Heilige Gees het ook die lag in my stem bewaar. Na byna 3 eindelose jare is die boedel afgehandel. Ek kon my huis behou, en ek het geweet dat Marius veilig in sy hemelse huis is. Ek kan getuig: Jesus is die Koning van die konings! God het my beskerm en gedra. Hy is getrou aan Sy beloftes. Spreuke 15:25: “Die Here… beskerm die grond van die weduwee”. Satan kon nie my vreugde steel nie! Ek vind my vreugde in God se Woord en Jesus se alomteenwoordigheid. Prys die Naam van die Here! Amen! Louise Els (Tel: 018 290 8034/5). ![]() ![]() |