GEKRAAKTE WALLE
  Dis namiddag.
Ons is op pad huis toe van Kaapstad af en die teerpad sing onder die motor se wiele. Dis 'n helder herfsmiddag en die landskap langs die snelweg dra die tekens van 'n seisoen wat besig is om te draai.
Net 'n paar kilometer buite Rivier-sonderend trek ons van die hoofpad af. 'n Tweespoor grond-paadjie loop deur 'n motorhek die veld in. Ons sluit die motor af en stap 'n paar treë met die grond-paadjie langs tot by die motorhek.
Weerskante van die motorhek is daar 'n lae klipmuurtjie en ek balanseer die liter melk in my hand terwyl ek my sit kry.
My man vou 'n wit kardoesie oop en die stoom staan nog op die varsgebakte pasteie van die ou meulbakkery in Riviersonderend. Terwyl ons styf teen mekaar op die klipmuurtjie ons padkos eet, raak ons bewus van die omgewing.
Langs die pad loop 'n trop bont beeste rustig en wei. 'n Entjie verder in die veld staan 'n stuk of vyf bedrywige byekorwe.
'n Geroeste windpomp gooi 'n lang skaduwee tot amper in die teerpad en maak 'n skril geluid toe die wind die lemme in die rondte stoot. 'n Dun straaltjie blink water loop by die pyp uit en val ritmies in die sementdam.
Daar is twee damme langs die windpomp. Die een dam se muur het gebreek en omgeval. Die gras groei deur die krake, en die hel-ling van die muur wys dat gravitasie hierdie rondte gewen het.
Die ander dam lyk presies dieselfde, maar is aan die buitekant versterk met dik draad wat netjies bo, in die middel, en onder om die dam vasgetrek is. Ek onthou hoe streng my pa was oor sy sementdam op die plaas. Ons mag geswem het, maar as hy jou sien spring of duik van die wal af, was daar groot moeilikheid, want selfs die kleinste krakie kan die einde van die dam beteken.
Net soos die dam versterk is met drade rondom, het ons ook versterking nodig in ons per-soonlike lewe.
Ons lees die volgende woorde in Jesaja 41:10 - “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou.”
Hoe lyk jóú dam? Is jou walle versterk en is jy gereed vir die dae as die wind waai en die water oor die wal stoot, of probeer jy met moeite die krake toehou wat dreig om jou mure te verbrokkel?
Miskien is dit vandag tyd om jou hart oop te maak vir die geskenk wat God vir jou wil gee. Om jouself aan Hom oor te gee en toe te laat dat Sy omgee, Sy besker-ming en Sy goeie planne vir jou lewe 'n realiteit word. Bekommernis en vrees is nie van die Here nie. Dis saadjies wat die vyand saai en wat deur ons besige leefstyl en deurmekaar prioriteite gevoed word.
In Jes. 41 sê die Here dat ons nie bang en bekommerd hoef te wees nie, want Hy is by ons - elke oomblik van elke dag, tot in ewigheid! Met Hom aan ons sy is ons damme veilig en stewig, al loop die walle oor.
Ek hoor weer die skril geluid van die windpomp se wiel en 'n nuwe stroompie helder water loop in die dam. Ek voel hoe die water ook weer vars lewe in my gees bring en ek kan nie anders as om dankie te sê nie.
Dankie dat ek op 'n vreemde grondpaadjie met 'n liter melk en 'n pastei in die hand net weer U goedheid kan ervaar. Dankie vir die beloftes waaraan ons kan vashou as ons damwalle oorloop en die druk ondraaglik raak.
Dankie vir die Woord van God, vir gebed en hemelse vriendskappe wat die drade is rondom my dam.
Here, wie is ek dat U belowe om my nooit te los nie, om U arms rondom my te hou en my te beskerm? Help my om iets te verstaan van U liefde vir my. Amen!
- Rosa Duvenhage

Indeks     Index