"DIE MAN WAT VIR MY GESTERWE HET" | |
  |
Jare gelede wou ek graag as sendeling na die buiteland gaan, maar die deure was toe. Na verloop van tyd het ek en my man en ons seuntjies ons gevestig in die omgewing van 'n goudmyn waar die lewe maar baie ru en onverfynd was. Anderkant die rant het 'n man gewoon wat uiters siek was aan tering. Hy was só sleg dat niemand dit by hom kon uithou nie. Dus het mense wat vir hom kos gebring het, dit net daar naby neergesit en hulle gou weer uit die voete gemaak. "Eendag sal iemand hom nog daar dood aantref," het hulle gesê. "En hoe eerder, hoe beter. Hy lyk soos iemand wat nooit 'n siel gehad het nie!" Die gedagte aan sulke ellende het my gedurig agtervolg. Ek het hard probeer om iemand te kry om hom te gaan besoek en uit te vind wat hy nodig het, dog tevergeefs. Toe kom die gedagte by my op, "Hier is nou jou kans vir sending-werk. Gaan self!" Ek het terug-gedeins om iemand wat so vuil was, te besoek en dan dalk nog tevergeefs. Buitendien was dit ook nie die soort werk wat ek graag wou doen nie. Eindelik het ek oor die rant gestap na die ou kleihuisie. Daar was net een vertrek en die deur het oopgestaan. Op 'n hopie strooi in die hoek het ek die sterwende man onder 'n paar komberse sien lê. Die sonde het vreeslike tekens op sy gesig agtergelaat. As hulle my nie gesê het dat hy nie kon beweeg nie, sou ek seker net daar en dan omgedraai het. Toe hy my gewaar, het hy my met 'n vreeslike vloekwoord begroet. Ek stap nader en weer 'n vloek-woord. "Vriend, moet tog nie so praat nie," sê ek. "Ek is nie jou vriend nie, ek het geen vriende nie," antwoord hy. "Wel, ek is een en..." Maar met 'n stroom vloekwoorde val hy my in die rede en sê, "Jy is g'n vriend van my nie. Ek het nog nooit vriende gehad nie en ek wil ook nie vriende hê nie." Met die gedagte om miskien 'n teer snaar in sy hart aan te roer, vra ek of hy nog sy moeder onthou, maar hy het haar ver-vloek. Ek vra toe of hy ooit getroud was, maar sy vrou het hy ook vervloek. Ek het hom van Jesus en Sy soendood probeer vertel, maar hy het my met vloekwoorde stilgemaak en gesê: "Dis alles leuens. Niemand het ooit vir ander mense gesterwe nie." Ek het die vrugte wat ek gebring het, naby hom neergesit en toe is ek diep teleurgesteld daar weg. "Ek het geweet dit sou nutteloos wees," het ek gedink. Die vol-gende dag het ek egter weer gegaan, en daarna elke dag vir twee weke, maar daar was géén positiewe reaksie nie. "Nou gaan ek nie meer nie," besluit ek. Toe ek die aand my seuntjies in die bed sit, het ek nie volgens gewoonte vir die myn-werker gebid nie. Kareltjie het dit opgemerk en gesê, "Mammie het nie vir die siek man gebid nie." "Nee," sê ek met 'n sug. "Het Mammie hom opgegee?" "Ja, ek dink ek het." "Het God hom ook opgegee, Mammie? Moet Mammie dan nie aanhou totdat God hom opgee nie?" Daardie nag kon ek nie slaap nie. 'n Sterwende man, so vuil en so sleg, en niemand wat omgee nie! Ek het opgestaan en alleen gaan bid, maar daar op my knieë is ek oorweldig deur die besef van die waardeloosheid van my gebede op daardie tyd. Ek het nog nie geglo dat hierdie man werklik gered kon word nie, en behalwe vir halfhartige meegevoel, het ek nie regtig omgegee nie. Ek het nog nie die siel van God geëis nie. Ek het op my gesig geval en geroep: "O, Here Jesus, gee my net 'n besef van die waarde van hierdie mensesiel!" Ek het op my knieë gebly totdat Golgota vir my weer 'n werklikheid geword het, en daardie nag het ek geleer om aan te hou worstel vir 'n siel. Toe ek in my kamer terugkom, vra my man: "Wat van jou myn-werker?" "Hy gaan gered word," was my antwoord. "Hoe gaan jy dit doen?" "GOD gaan hom red; of ek daar iets mee te doen sal hê, weet ek nie." Die volgende oggend het ek nie soos gewoonlik eers my werk klaargemaak nie, maar onmid-dellik nadat my seuntjies weg was skool toe, het ek alles net so laat staan en oor die bult gesnel om 'n siel te wen. Op pad daarheen kom 'n buurvrou uit haar huis en sê: "Ek sal saam met jou gaan." Ek wou nie eintlik geselskap hê nie, maar hier was nog 'n les vir my: God kan beter planne maak as ek. Sy het haar klein dogtertjie by haar gehad, en toe ons by die huisie kom, sê sy, "Gaan jy maar gou in, ek sal hier buite wag." Ek het nie geweet wat ek verwag het nie, maar die man het my weer met 'n vreeslike vloek begroet. Dit het my egter nie seergemaak soos vantevore nie. Terwyl ek besig was om vir hom skoon water en 'n handdoek neer te sit - dinge wat ek elke dag gedoen het en wat hy gebruik het, maar waarvoor hy nooit dankie gesê het nie - weerklink die helder lag van 'n dogtertjie van buite af deur die lug. "Wat is dit?" vra die man opgewonde. "Dis 'n klein dogtertjie wat daar buite vir my wag. "Sal jy omgee om haar te laat inkom?" sê hy op 'n gans ander toon as ooit tevore. Ek stap na die deur en roep haar. "Kom kyk na die siek man, Mymie." Toe sy sy gesig sien, tree sy terug en sê, "Ek is bang." Ek bemoedig haar en sê: "Arme siek man! Hy kan nie opstaan nie en hy wil jou so graag sien." Sy het soos 'n engeltjie gelyk met haar lewendige gesiggie en goue lokke en haar oë was teer en vol medelye. In haar hand het sy blomme gehad wat sy gepluk het, en terwyl sy vorentoe kom, sê sy: "Ek is jammer vir jou, siek man. Wil jy hierdie blomme hê?" Hy lê sy uitgeteerde hand by die blomme verby op haar sagte, mollige handjie en groot trane wel op in sy oë terwyl hy sê: "Ek het ook 'n dogtertjie gehad, en sy het gesterf. Haar naam was ook Mymie. Sy het my liefgehad. Niemand anders nie! Ek reken ek sou 'n ander mens gewees het as sy nog gelewe het. Vandat sy dood is, het ek alle mense gehaat." Dadelik het ek geweet dat ek die sleutel na sy hart gevind het! 'n Gedagte (gebore uit die midder-nagtelike ure van gebed) kom by my op, en ek sê: "Toe ek van jou moeder en jou vrou gepraat het, het jy hulle gevloek. Ek weet nou dat hulle dus nie edel vroue was nie, anders sou jy nie so iets gedoen het nie, want ek het nog nooit 'n man 'n goeie moeder hoor vloek nie." "Edel vroue! O, jy weet niks van daardie twee slegte vroue nie! Jy kan hulle nie eens vir jou voorstel nie!" "Wel," sê ek, "As jou dogtertjie gelewe en grootgeword het, sou sy nie waarskynlik hulle slegte voorbeeld gevolg het nie?" Klaarblyklik het hy nooit só daaraan gedink nie. Hy draai sy groot oë weg. Toe kyk hy terug en roep uit: "O God, nee! Ek sou haar dan eerder doodgemaak het! Nou is ek bly sy het toe maar eerder gesterwe." Terwyl ek sy maer hand in myne neem, sê ek: "Die liewe Heer wou ook nie hê sy moet so grootword nie. Hy het haar selfs liewer gehad as jy. Daarom het Hy haar weg-geneem na 'n plek waar sy deur engele versorg kon word. Daar bewaar Hy haar vir jou. Vandag wag sy vir jou. Wil jy haar nie graag weer sien nie?" "O, ek sal gewillig wees om duisendmaal verbrand te word, as ek tog maar net weer my liefling, my klein Mymie, kan sien!" Watter heerlike nuus kon ek hom in daardie uur vertel! Sy gesig het doodsbleek geword terwyl ek praat, en hy het sy arms omhoog gesteek toe smart hom oorweldig. Twee of drie keer het hy gehyg asof sy asem heeltemal weg was. Hy gryp my hande en sê: "Wat het jy die ander dag gesê oor praat met Iemand wat jy nie kan sien nie?" "Dit is bid. Ek sê vir Hom wat ek nodig het." "Bid nou. Bid gou. Sê vir Hom ek wil graag weer my liefling sien. Sê vir Hom enigiets wat jy wil." Ek het die hand van die kindjie geneem en dit op die bewende hande van die man gesit en gesê sy moet vir die man bid wat sy klein dogtertjie verloor het en wie hy so graag weer wil sien. Dit was toe wat Mymie gebid het: "Liewe Jesus, hierdie man is siek. Hy het sy klein dogtertjie verloor en is baie hartseer. Ek is so jammer vir hom en hy is ook jammer. Sal U nie vir hom help en wys waar hy sy dogtertjie kan kry nie? Asseblief tog, Here Jesus. Amen." Dit was asof die hemel oor ons oopgegaan het en daar Iemand voor ons gestaan het met die merke van die spykers in Sy hande en die wond in Sy sy. Mymie glip toe uit, maar die man hou aan sê: "Vertel Hom meer daarvan! Vertel Hom alles, maar o, jy weet net nie..." En toe vloei daar oor sy lippe só 'n stroom van belydenis dat ek dit seker nie sou kon uitgehou het nie, was dit nie vir die Teen-woordigheid van God nie! Stel jou voor hoe die Here Sy Hand uitgesteek het na die verlore siel - totdat hy uiteindelik ook die sterk Hand gegryp het. Dit was drie dae later dat die arme, vermoeide siel hom van alles weggedraai het na Hom wat magtig was om te red - "Die Man wat vir my gesterwe het". Hy het nog weke daarna gelewe, so asof God wou toon hoe eg die verandering was. Op sy versoek is daar 'n diens in sy huisie gereël en die mans het van die myn af gestroom en die vertrek gevul. "Gaan op julle knieë, mense!" sê hy, "en laat sy ons vertel van die Man wat vir ons gesterf het." Ek het hulle die wonderlike verhaal van Jesus se kruisiging vertel. Na 'n rukkie sê hy: "Ag, mense, julle glo dit nie! Anders sou julle trane stort - julle sou die trane nie kon bedwing nie. Lig my op, kêrels, ek wil dit ook graag net een keer vertel." Hulle het hom opgelig en so tussen die hoesbuie deur, het hy die verhaal op sy eie manier vertel. "Kêrels, julle weet hoe die water deur die sluiskaste spoel en al wat vuil is, wegvoer sodat net die goud agterbly. Wel, die bloed van die Man van Wie sy vertel het, het net so oor my gevloei. Dit het AL die vuil weggewas. Daar het net genoeg van my oorgebly om Mymie weer te kan sien, asook die Man wat vir my gesterwe het. Ag, kêrels, kan julle Hom nie ook liefkry nie? 'n Paar dae later kon ek aan sy gesig sien dat die einde nie meer ver was nie. Toe ek huis toe gaan, vra ek: "Wat sal ek vanaand sê, Koos?" "Net 'goeienag'" sê hy. "En wat sal jy môreoggend sê wanneer ons weer ontmoet?" "Ek sal 'goeiemôre' sê daarbo." Toe ek die volgende oggend daar kom, was die deur toe. By 'n plank wat op twee stoele rus, sit twee mans. Hulle neem die doek weg en ek kon kyk na die gesig wat nadergekom het aan die 'beeld van God'. Koos se einde het omtrent middernag gekom, en sy laaste woorde was: "Nou gaan ek, kêrels. Sê vir haar ek gaan nou vir Mymie sien. Sê vir haar ek gaan nou die Man sien wat vir my gesterwe het." En daarmee is hy weg. Uit: Wegwyser na die Ewigheid, saamgestel deur Timo Kriel, CUM, 1971. |