RAAK STIL VOOR DIE HERE... | |
Daar is tye van rus en tye van chaos in 'n mens se lewe. As ek praat van chaos bedoel ek nie 'n probleem hier of daar nie, maar sommer 'n stortvloed van probleme! Dit kan bestaan uit 'n magdom klein probleempies wat saam 'n massiewe berg vorm, of 'n aantal groot probleme wat nie minder raak nie, maar dikwels net meer. In tye van groot probleme probeer ons drastiese dinge om alles te hanteer of op te los. Ons maak planne, ons gesels met ons vertrouelinge daaroor, ons kry professionele hulp indien nodig. Ons huil, skep moed, raak depressief, voel beter en huil dan weer. Omdat mense almal uniek is, gee almal raad oor hoe húlle die probleme sou hanteer en glo my, die raad verskil drasties van een persoon na 'n ander. Naderhand raak ons verward en besluit een dag een ding, net om die besluit die volgende dag te verander. Omdat ons in 'n kitswêreld lewe, verwag ons ook vinnige oplossings. Dit is emosioneel uitputtend. Dit is 'n afwaartse spiraal wat ons insluk, besig hou en ons tyd steel. Dit benadeel ons denke negatief. Ons sukkel om logies te dink, verloor perspektief en kan ook nie meer die Stem van die Here in ons lewe hoor nie. Ons maak staat op mense vir hulp en soos die chaos vermeerder, vervaag die Here in die agter-grond tot op 'n punt waar ons nie meer Bybel lees of bid nie. Dit is juis in tye van groot swakheid dat die Here in ons lewens werk (“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring” - 2 Kor. 12:9). As ons ophou spartel en begin stil raak, sal ons besef dat die antwoord nie by onsself of by ander mense lê nie, maar by die Vader. Omdat ons maar mens is, spartel ons soms om te laat gaan en dit aan die Here oor te laat. Onthou, Hy is die Skepper van die heelal, Hy is heeltemal bevoeg om ons elkeen te help, te red, te verlos, liefde te gee, en om ons te vergoed vir wat die vyand by ons weggeneem het. Hy is die Een wat die stryd namens ons sal stry as ons Hom toelaat. Kom ons ondersoek 'n paar situasies waarin ons onself kan bevind: Teleurstelling Teleurstelling is 'n gevoel wat ons het wanneer ons lewens-omstandighede anders uitdraai as die verwagtinge wat ons koester. Almal van ons sal teleurstellings in ons leeftyd ervaar. Selfs mense vir wie ons lief is of wat ons vertrou, kan ons teleurstel. 'n Voorbeeld hiervan is Jesus se teleurstelling in Judas se verraad. Judas het Sy liefde aan Jesus bely, maar het Hom tog verraai. Nog 'n voorbeeld is Jakob wat vir Laban gewerk het om met Ragel te trou, maar toe word Lea aan hom gegee. Hy moes nog veel langer werk om met Ragel te kon trou. Tydens sulke teleurstellings ontstaan daar dikwels wraak- of wrokgevoelens teenoor die persoon wat ons teleurgestel het. In Romeine 12:19 staan daar: “Moenie julle wreek nie, gelief-des, maar gee plek vir die toorn: want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” Dit is baie belangrik om ons seerkry en pyn aan die Here te bely. Gee dit vir Hom. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Ons moet hier braaf wees om diegene wat ons teleurgestel het, te vergewe. As dit moeilik is, maak dit 'n saak van gebed. Soms is die teleurstelling so diep en ons so swak, maar met die Here se hulp sal ons dit regkry! Moet jy dalk jouself vergewe, liewe mens? Deur die kruisdood het Jesus al klaar voor jou probleme en verkeerde keuses te staan gekom en daarvoor gesterf sodat jy vry kan wees. Niks is so erg dat ons nie vergifnis daarvoor kan ontvang nie. Bely nou jou teleurstelling voor die Here, Sy genade is vir jou genoeg (2 Korinthiërs 12:9). Is jy vermoeid? As ons liggaamlik moeg is, kan ons gaan slaap. As ons emosionele rus nodig het, kan ons 'n tyd lank verlof neem. Hoe vind ons rus vir moeilike lewens-kwessies wat die dieptes van ons hart aanraak? Raak stil voor die Here. Kom net soos jy is en sonder jouself af in Sy teen-woordigheid. Pak al jou probleme voor Hom uit. Daar is niks wat ons vir Hom kan wegsteek nie. Hy het ons gevorm in ons moederskoot. In die Teenwoordigheid van die Here is daar rus. Daar word nie van jou verwag om goeie werke of uitermatige godsdienspraktyke na te jaag sodat die Here vir jou iets in ruil daarvoor sal doen nie. In die Teenwoordigheid van die Here kan ons ophou spartel en kan ons geestelike rus vind wat ons sal versterk al is ons vlees hoe swak. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Voel jy eensaam? Pynlike gebeure soos dood, egskeiding of verbrokkeling van verhoudings tussen vriende of ouers en kinders kan vir ons as mense groot smart besorg. Voel jy alleen, voel dit asof daar niemand is na wie jy toe kan gaan of wat vir jou omgee in jou tyd van smart nie? Selfs Jesus vra in Matt. 27:46 “My God, my God, waarom het U my verlaat?” In sulke don-ker tye voel dit of daar geen hoop is nie. Die werklikheid is dat God nooit Sy Seun Jesus verlaat het nie, al het Jesus dit so ervaar. Hoeveel te meer sal ons as mense dan eensaamheid en smart ervaar? Trane bring vir ons verligting en dan belowe die Here dat Hy ons nooit sal begewe of sal verlaat nie (Hebreërs 13:5). Soos wat die Vader nooit vir Jesus alleen gelaat het nie sal Hy ons ook nooit alleen laat nie. “…maar julle droefheid sal in blydskap verander” (Joh. 16:20). Die Heilige Gees is ons Trooster in tye van eensaamheid en pyn. Laat Hom toe om jou te troos. “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16). Omdat die Trooster by ons bly tot in ewigheid is ons nie werklik alleen nie. Ons hoef nie die Trooster te gaan soek nie, Hy bly in ons! Ons is maar almal reisigers hier op aarde. Nie een van ons is vrygestel van probleme of pyn nie. Kom ons wees barmhartig teenoor mekaar, vol medelye en nie haastig om te oordeel nie. Ons sien soms nie die hele pad wat 'n ander persoon stap nie. Wees teer met die onervare jongelinge, medelydend met die oues van dae, simpatiek met die armoediges en sukkelaars, verdraag-saam teenoor die wat swak is en die sondaar en oortreder... Een of ander tyd in jou lewe sal jy ook ander se medelye nodig kry. Kom ons raak stil voor die Here en betree Sy rus wat alle verstand te bowe gaan. Dit is die een plek waar jy eerlik kan wees, niemand hoef te beïndruk nie en net jouself kan wees. Lê jou pyn, vrese, teleurstellings en ander gevoe-lens voor die voete van die Here. Hy verstaan en wag vir jou! - BJR, 082 775 2545 |