UITNODIGING | |
  |
My kind Ek merk dat die gewoel van die wêreld en die druk van omstandighede en die eise van jou verantwoordelikhede jou moeg en uitgeput gelaat het. Ek wil hê jy moet weet dat Ek deur alles by jou staan. Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Kom skep by My lewende water en laat dit 'n bruisende stroom word wat uit jou binneste vloei. Ek wil vir jou vrede gee, vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat jou hart en jou sinne sal bewaar. Laat My liefde jou omgord. Laat My Teenwoordigheid jou troos. Laat My Hand jou lei. Vul jou gedagtes met die Skrif. Dit sal jou versterk en bemoedig. Fluister My woorde in jou oggendgebed, put krag daaruit wanneer die middagson op jou neerbrand, herhaal dit wanneer die skaduwees daal... As jy vermoeid en belas is, kom na My toe en Ek sal jou rus gee. My Heilige Gees sal jou swakhede te hulp kom. Selfs wanneer jy nie weet hoe om reg te bid nie, sal My Gees met onuitspreeklike sugtinge vir jou intree. Jy is My erfgenaam en alles wat Ek besit, het Ek deur My Seun, Jesus Christus, tot jou beskikking gestel. In Hom is jy meer as 'n oorwinnaar en niks sal jou ooit van Sy liefde skei nie. Jou Vader [Ons Ambassadeur, dr. Lemmer du Plessis, 076 427 9171]. |