DIE DEUR VAN GELOOF |
|
![]() |
|
  |
Hoe open 'n mens die deur na geloof? Wat is geloof? Ek dink 'n mens kan sê dat daar in die woord "geloof" drie begrippe opgesluit lê. Hulle is doen, waag en oorwin. Glo is om te doen en te waag en te oorwin. Geloof is in die eerste plek: Om te doen! Dis tog só belangrik om te verstaan dat 'n mens nie al sittende kan glo nie. Dis seker daarom dat die Israeliete staande, aangegord, gereed vir die mars, die Pasga moes vier. Geloof is ook nie net maar iets vir jou verstand, om iets vir waar te hou nie. Dis eers as dit van jou verstand af na jou hande en voete en dade en gesindheid vloei dat jy werklik begin glo! Geloof is geen sienswyse nie, maar 'n synswyse of bestaans-wyse. Dis nie beskouinge oor God en die Evangelie nie, maar om daaruit te lewe! Die woord geloof is gebore in die Hebreeuse taal en is ook verwant aan hierdie taal, wat feitlik net uit werkwoorde bestaan. Só is die geloof: Jy kan dit net met werkwoorde be-skrywe. Slegs as jy dit gebruik, daarmee iets doen, werk dit. Maar wat is dit wat ons met of in die geloof moet doen? Daarmee kom ons by die tweede begrip, die tweede bestanddeel: Om te glo, is om te waag. Maar dit beteken natuurlik nie om soos 'n dobbelaar te waag nie. Nee! Dit beteken dat ek dit mét Gód sal waag! En dít is géén waagstuk nie, maar die grootste sekerheid! Dit beteken dat ek die betroubare God sal vertrou; dat ek nie sal let op die omstan-dighede nie, maar op die Here! Of beter gesê, dat ek ondanks die omstandighede, ondanks my onmag en swakheid en die hopeloosheid van my situasie, God 'n kans sal gee, met God op weg sal gaan, Hom op Sy Woord sal neem, en die minstens dertigduisend beloftes wat Hy in Sy Woord opgeteken het, ernstig sal opneem. Onthou u van die keer toe die dissipels vir die Here kom vra het: "Gee ons meer geloof?" Hulle het gedink dat die pro-bleem by die geringheid van hulle geloof gelê het en dat as hulle méér geloof kon ontvang, dit beter sou gaan. Maar dan sê die Here dat al is jou gelofie ook so klein soos 'n mosterdsaadjie, het jy heeltemal genoeg. Die punt is slegs dat jy dit moet plant, dat jy dit moet waag om hierdie klein saadjie aan die grond toe te vertrou en om te glo dat dit sal groei. Dan groei dit ook en geloof word nie net 'n plantjie of struik nie, maar 'n boom! Het u al opgemerk hoe Jesus mense genees het? Deur hulle as't ware uit te daag om Hom op Sy woord te neem. Hy het hulle nie éérs genees en dan daarná die vanselfsprekende gesê dat hulle hul beddens moet optel en moes gaan nie. Nee, Hy begin deur aan die lamme, wat dit nie kán doen nie, te sê: "Staan op, neem jou bed en gaan na jou huis." En as die lamme dit waag om ten spyte van sy lamheid Jesus op Sy woord te neem, gebeur dit! Dan kom die derde bestanddeel van geloof aan die orde: Geloof is om te oorwin! Wie glo, sal oorwin. Ek het 'n familielid wat nie minder nie as drie liefdes-teleurstellings beleef het. Maar sy het desondanks nog bly waag om te glo dat God die regte een na haar toe sou stuur - en God het! Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, sê Johannes, naamlik ons geloof. Wie 'n doen- en waag-geloof het, ondervind later dat dit 'n oorwin-geloof geword het! [DEURE NA GELUK, Murray Janson, Daan Retief Uitgewers, 1079]. |