'N GELIEFDE MOORDENAAR



  "In die konsentrasiekamp waar ek gewerk het, het ek baie Jode doodgemaak, selfs Jode met kinders in hulle arms," spog die man teenoor pastoor Wurm-brand. Hy het so pas van die front af teruggekeer waar hy vir die Nazi's geveg het en is trots op sy prestasies. Hy geniet dit om dit vir enigiemand te vertel wat bereid is om te luister. Toe hy die eg Duitse naam, Wurmbrand, hoor, het hy glad nie geweet die pastoor is 'n Jood nie.

Die meeste Christene sou nie weet wat om te sê in antwoord op hierdie "voorreg" om na die man se barbaarsheid en moorddadigheid te luister nie. Maar nie pastoor Wurmbrand nie. Hy het die man dadelik vriendelik uitgenooi om by hulle aan huis te kom eet. Die man was lief vir musiek, en toe pastoor Wurmbrand vir hom sê dat hy vir hom sou klavier speel, het hy die uitnodiging met graagte aangeneem.

Toe die man daardie aand opdaag, was daar ook 'n paar ander gelowiges teenwoordig, maar Sabina, pastoor Wurmbrand se vrou, het nie lekker gevoel nie en was in haar kamer. Pastoor Wurmbrand het vir die gaste klavier gespeel en hulle het 'n heerlike aand van musiek deurgebring. Daarna het hulle begin kuier en mekaar se gesel-skap verder geniet.

Toe dit al taamlik laat was, het pastoor Wurmbrand na die soldaat gedraai en gesê: "Meneer, daar is iets wat ek jou moet vertel. Jy moet my belowe om tien minute lank te luister sonder om my in die rede te val. Daarna kan jy sê wat jy wil."

Die man het breed geglimlag, gemoedelik na wat hy alles die aand geniet het, en vriendelik gesê: "Nou goed, jy kan selfs langer as tien minute met my praat. Ek belowe dat ek jou nie sal onderbreek nie. Jy kan sê net wat jy wil."

"In die ander kamer," het die pastoor begin, "lê my vrou en slaap. Nes ek, is sy ook 'n Jood. Haar familie, wat ook my familie is, het in die groot Nazi-konsentrasiekamp gesterf waar jy gespog het dat jy Jode met kinders in hulle arms doodgemaak het. Jy is dus waarskynlik die moordenaar van my familie.

"Nou sal ek graag 'n eksperiment wil doen. Ons sal na die ander kamer toe gaan en ek sal vir my vrou sê wie jy is. Ek kan jou verseker dat my vrou nie een verwytende woord teenoor jou sal sê of beskuldigend na jou sal kyk nie, maar dat sy soos enige ander gewaardeerde gas vir jou sal glimlag. Sy sal opstaan en koffie en koekies vir jou gaan haal. Jy sal net soos enigiemand anders ontvang word. As my vrou, wat maar net 'n mens is, dit kan doen - as sy jou so kan liefhê, wetend wat jy gedoen het, en jou kan vergewe - hoeveel te meer sal Jesus, wat liefde is, dit nie ook doen nie?"

Die man het ongemaklik aan sy baadjie getrek. "Wat het ek gedoen? Wat het ek gedoen? Ek is skuldig aan soveel bloed!"

Die pastoor het geantwoord: "As jy wil, kan ons nou kniel en God vra om jou te vergewe."

Hulle het toe gekniel. Eers het pastoor Wurmbrand 'n kort gebed gedoen; daarna het die man, wat nie geweet het hoe om te bid nie, net oor en oor gesê: "Jesus, vergewe my. Jesus, vergewe my. Ek glo dat U my sal vergewe." Daar was baie trane, en toe het hy en die pastoor mekaar omhels.

"Ek het jou 'n eksperiment belowe. Kom ons gaan na my vrou toe."

Sabina het niks gehoor terwyl sy in die kamer aan die ander kant van die huis geslaap het nie. Hulle het na haar toe gegaan en pastoor Wurmbrand het haar wakker gemaak. "Ken jy hierdie man?" het pastoor Wurmbrand gevra.

"Nee," het sy deur die slaap geantwoord.

Toe het hy die man aan haar voorgestel. "Dit is die man wat jou susters, jou broers en jou ouers vermoor het. Maar nou het hy tot bekering gekom en is hy ons broer in die Messias, ons broer in die geloof. Wat het jy vir hom te sê?"

Sy het hom om die hals geval en hulle het saam gehuil.

- Fanaties vir Jesus, Vol II, dcTalk, CUM, 2004.


Indeks     Index