GETUIENIS VAN 'N BEGENADIGDE...

  (Sel: 082 384 2205)

Hoe beskryf 'n mens byna agt ure se tyd saam met God op papier?

Eerstens wil ek ons Hemelse Vader loof en prys dat Hy die God is wat ondeurgrondelike dieptes vir ons kan oopmaak (Jer. 33:3). Dit was my begeerte dat Hy dit vir my sal doen. So word my kind siek en moet ses weke in die bed bly. Wat 'n goeie tyd om te gebruik! Toe beplan ek om ses weke op my Vader te wag om Sy ondeurgrondelike dieptes aan my te openbaar. Ek het baie tyd gespandeer met die Woord en aan gebed, maar ses weke het verbygegaan en niks 'groots' het gebeur nie.

Terwyl ek op 'n dag iewers heen gery het en baie teleurgesteld was, vra ek my Vader: "Is ek dan nie goed genoeg nie, of is daar enige sonde wat die oorsaak kan wees?" Tot my verbasing praat Hy hoorbaar met my: "Jy praat te veel en gee My nie 'n kans nie." Ek besluit toe - géén Bybel lees en géén bid of praat nie!

Gedurende die dag word my kind weer skielik siek en koorsig. Toe sy later aan die slaap raak, is ek op my knieë en wag, vasbeslote om géén woord te sê nie en myself net oop te stel vir die Heilige Gees. Na 'n geruime tyd begin ek die mooiste lied in 'n vreemde taal te sing! Die volgende oomblik is my gees uit my liggaam en sien ek myself op my knieë terwyl my kind rustig slaap.

Toe ek omkyk, sien ek God staan, omring met Sy heerlike Lig! Hy is egter ver van my af. Ek sien net Sy voete en wit kleed. (Ek wil net iets anders sê voor ek verder vertel: 'n mens hoef nie ewe skielik iemand anders te wees nie of anders op te tree nie - Hy ken jou te goed). Ek vra Hom toe hoe ek nou by Hom moet uitkom. Ek is dan nou uit my liggaam? Toe toon Hy aan my 'n sementpad wat tot by Hom loop.

"Here, ek sal dit nooit maak om tot daar te kom nie; dit is baie steil!" Hy sê toe: "Daar is 'n reling langsaan."

"Maar Here, hoekom moet ek nou hierdie pad uitklim as U in staat is om my tot by U te neem?"

"Ek wil jou net daaraan herinner dat om by My uit te kom, soos hierdie pad is. Dit is nie altyd maklik nie, maar Ek IS daar."

Toe begin ek myself optrek teen die reling van die steil pad; met tye uitasem, maar dan bemoedig Hy my. So het ek heelwat later bo by Hom uitgekom. Alles was só skoon en lig as gevolg van Sy Teenwoordigheid!

Toe stap ons saam. Ek vra Hom waar ons heengaan en Hy sê vir my dat Hy my alles gaan wys wat ek wil weet. (Ek glo dat elke mens se ondervinding in Sy Teenwoordigheid nie dieselfde sal wees nie, aangesien ons behoeftes en menswees verskil).

Hy het onder andere aan my getoon hoe pastore en ander predikers wat die Waarheid verkondig in ons land gemartel sal word totdat hulle sterf ter wille van Hom. Hy het ook aan my gewys dat my gesin vir wie ek gereeld Skrif bid, gered sal word. Hy hoor en antwoord wanneer ons tot Hom roep! ("Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor" - Psalm 91:15a OV.)

Hy het ook aan my getoon hoe talle van Sy kinders ter wille van Hom en Sy Woord sal sterf. Dit was wonderbaarlik om te sien hoe Hy hulle kom haal. 'n Grys marmerwa met 'n massiewe, wit perd het afgekom en mense met kruise in hul hande en grys rokke aan is opgeneem in die lug na Hom toe! (Hulle gesigte was vir my bedek). Mense sal op brandstapels vasgemaak word ter wille van die Woord.

Ek het verder my gesin, in wit geklee, sien staan. My oudste dogter het egter 'n goue rok aangehad. (Agterna het ek gedink dat ek Hom moes gevra het oor die rok!)

Ek het die hele tyd vir Hom allerhande vrae gevra en Hy het rustig, maar met groot outoriteit, gepraat. Toe neem Hy my en sê Hy gaan my die doderyk wys. Ons het in stikdonker inbeweeg, maar omdat Hy LIG is, kon ek alles rondom my sien. Hoe nader ons beweeg het, hoe verskrikliker was dit om te sien en hoor. Uit 'n enorme, swart gat het hande aan Sy voete probeer raak. Daar was 'n ontsettende gegil en party het Hom gesmeek en sommige het uitgeroep: "Maar Here, in U Naam het ek siekes gesond gemaak en in U Naam het ek dooies opgewek en demone uitgedryf!" (Matt. 7:22).

Ander het Hom gevloek en geskel. Daar was chaos! Sommige het net 'n bietjie water gevra. Net toe ek dink dit word vir my te veel om te aanskou en te verduur, want dit is donkerder as donker daar, neem Hy my hand en sê: "Ek sien dit is vir jou te veel. Kom ek gaan wys jou iets anders."

Toe ons omdraai, sê God vir my: "Ek is nog steeds jammer vir hulle almal, maar elkeen van hulle het 'n regverdige kans gehad." (God het geen haat in Sy Stem gehad nie.)

Dit was vir my oorweldigend om te hoor dat Hy elke mens wat Hy geskape het, só liefhet. Maar elke mens het 'n eie keuse of hy God se liefde wil aanneem of vertrap!

Ons het hierna al verder weggestap na waar dit baie rustig was. Ons het by 'n goue hekkie aangekom, 'n outydse, baie mooi hekkie. Ek gaan staan toe voor die hekkie en vat daaraan en Hy sê: "Maak die hekkie oop." Daar staan toe 'n pragtige blonde, krulkopseuntjie van ongeveer twee jaar. Ai! God ken waarlik 'n mens se gedagtes, want ek wou nog vir Hom vra om my seuntjie wat ek jare gelede laat aborteer het, te sien.

Hy sê toe, voor ek nog kon praat, met groot liefde: "Ek wou jou net wys hoe mooi hy was toe hy klein was. Ek weet jy wil vir My sê hy is seker nou 'n groot man." Hy wys toe vir my dat my seun (nou 'n jongman) 'n ent van ons af met 'n groot glimlag vir my staan en kyk. Ek het hom dadelik herken. Sy pa se ewebeeld!

Agter hom het 'n baie groot engel bo hom uitgetoring. My Vader sê vir my dat elke baba wat geaborteer word en elke wiegiedood, en elke vermoorde en siek baba wat beswyk, deur 'n engel grootgemaak word.

Iets wat tot vandag toe vir my baie kosbaar is, maar wat dalk vir ander mense onmoontlik sal klink, is dat die groot en almagtige God vir daardie kinders soms insae gee in verband met hulle ouers. Kom ek verduidelik dit so. Ek het vir 'n baie lang tyd kinders en volwassenes bedien wat met die okkultiese wêreld te doen gehad het, en ek het demone uitgedryf en met hierdie mense 'n pad geloop. Dit het soms my lewe in gevaar gestel en God het my toegerus met twee engele om my te beskerm. Toe vertel die Here my dat my seun soms sý engel stuur en vra dat God meer engele moet stuur om my op te pas.

Terwyl ek by die Here was, het my kind wat tuis in die bed was, driekeer gehuil. Elke keer sê Hy dat ek haar moet gaan versorg. Ek wou glad nie die eerste keer teruggaan nie - te bang dat ek iets sal misloop. Dan het Hy my verseker dat Hy my weer sal kom haal. Wanneer ek haar klaar versorg het en sy weer slaap, het ek op my knieë gebuig en weer daardie pragtige lied gesing en dan moes ek weer daardie steil sementpad uitklim.

Op 'n stadium het ek Hom gevra dat wanneer ek by my siek dogter is, ek net 'n paar dinge kon neerskryf, omdat ek te bang was dat ek iets sou vergeet wat ek gesien en gehoor het. Selfs hierdie versoek was vir Hom nie vreemd of snaaks nie, omdat Hy geweet het ek skryf graag alles neer wat vir my gees en siel iets beteken.

Daar was ook nog baie ander kosbare dinge wat Hy vir my gewys het aangaande die geesteswêreld. Die rede waarom ek egter bostaande getuienis met jou deel, is omdat jy moet glo dat ons Vader jou volkome vergewe wanneer jy jou sondes bely!

Eers na 27 jaar kon ek myself vergewe dat ek my kind laat aborteer het. Toe my Vader my seun aan my gewys het, kon ek Sy teer liefde ervaar, want Hy het nie toe gesê: "Daar is jou 'geaborteerde' kind nie." Terwyl ek hierdie gebeure neerskryf, ervaar ek steeds Sy onvoorwaardelike vergifnis!

Mag ons onbeskryflike, genadige, liefdevolle God jou vandag raaksien as jy jou laste na Hom toe bring.

Vir die nuuskierige kinders van die Here - moenie dink so 'n ervaring of gesprekvoering met God is net vir spesiale mense nie! Dit is vir alle kinders van God!


Indeks     Index