NET BY HOM VIND EK RUS

  Wie van ons het nie 'n behoefte aan rus nie? Wie van ons smag nie om tog net vir 'n oomblik te kan ontspan, te kan asemhaal, in ons gejaagde samelewing 'n slag tot jou sinne te kan kom nie? Stilte, ag, ek sou my koninkryk kon prysgee net vir 'n bietjie stilte!

Wel, nou weet ons mos ook dat daar stilte én stilte is. Miskien het jy tydens jou laaste vakansie langs die see gesit met sons-ondergang en gesien hoe die son sy laaste knipoog vir jou gee voordat hy onder die water gaan slaap, en in jou was daar 'n salige vrede.

Of miskien het jy al die onbeskryflike stilte ervaar as jy die laaste keer deur die huis loop waarin jy vir tien of twintig jaar gewoon het, en die meubelwa is al weg en die leë vertrekke fluis-ter die somtotaal van ervarings wat hier afgespeel het aan jou terug, en jy besef: Daar is 'n tyd om te kom, en 'n tyd om te gaan...

Of die vreemde stilte wat 'n mens soms in 'n begraafplaas beleef, wanneer die gekoer van die duiwe die stilte selfs verdiep en jy weet: Ons jare skiet verby soos 'n gedagte, ons vlieg na ons einde toe (Ps. 90:9,10).

Die Bybel praat ook van stilte. Die Ou Afrikaanse Vertaling van Psalm 62:2 lui: ...my siel is stil tot God ...Oftewel: Net by God vind ek rus... (NAV). Dis 'n ander soort stilte of rus as dié wat jy in die natuur kan vind, of wanneer jy moet swyg onder die besef dat jou lewe verbygaan en jy verganklik is. Dis 'n stilwees, 'n stilword voor God, met God, by God.

Trouens, die digter is só oortuig daarvan dat 'n mens nét by God rus vind, dat hy dit nie minder nie as vyf maal in verskillende vorme in hierdie psalm herhaal. Soos 'n refrein klink dit op:

Net by God vind ek rus...(v. 2). Net Hy is my rots en my redding...(v. 3). Net by God vind ek rus...(v. 6). Net Hy is my rots en my redding...(v. 7).

En, as 'n soort samevatting: ...'n mens kan net op U, Here, vertrou... (v. 13).

Dis 'n merkwaardige soort stilte en rus waarvan hier sprake is. Ons sou verwag dat jy dit eers ontvang as jy uit die lewe uit weggeneem en êrens in 'n paradystoestand geplaas word. Maar nee, die Here skenk dit aan jou midde-in jou worstelinge met die lewe, midde-in die chaos en rumoer wat ons wêreld kenmerk.

'n Mens sien dit al in die manier waarop die digter sy psalm struktureer. Hy begin met 'n belydenis: Net by God vind ek rus... (v. 2). 'n Mens sou verwag dat dinge hierna sprokiesagtig moet verloop en met 'n sprokies-slot moet sluit, iets soos: En hulle het daarna vir ewig gelukkig geleef. Maar wat volg? 'n Uitroep! 'n Kreet. 'n Beskrywing van uiterste lyding en spanning wat die digter moes deurmaak, waarvan die historiese agter-grond ongelukkig nie meer aan ons bekend is nie:

Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, 'n man wat reeds is soos 'n muur wat wil omval, 'n klipmuur wat omgestoot word? Hulle probeer my uitwerk: hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle (v. 4,5).

En dan, net daarna? Weer dieself-de belydenis waarmee die digter begin het: Net by God vind ek rus... (v. 6).

Die digter weet dat 'n mens die donker dinge van die lewe nie kan ignoreer of wegwens of wegpraat nie, maar wel dat die Here se rus groter as dit alles is, voor én na dit staan, dit as't ware omsluit en insluk. Binne-in die storm gee die Here stilte; binne-in die rumoer vind jy Sy rus!

O, ons sou dit natuurlik eerder anders wou gehad het. Noord-mans, 'n Hollander, sê dat ons verkieslik rustig saam met die Here rondom 'n teetafeltjie sou wou sit en 'n koppie tee drink en 'n gesprek met Hom voer wat ons nie uitput nie, maar so op teetafel-hoogte bly. Dís die soort rus en vrede wat ons soek. Maar dan lees jy die Bybel en jy kom agter dat dinge nie só werk nie. Dat Abraham uit sy land moes trek. Dat Josef na Egipte weggevoer word, Moses in die woestyn sterf, Dawid moet vlug voor Saul en Absalom, Israel in ballingskap weggevoer word, die Kerk ver-druk word en jy jou kruis moet opneem. Ja, ons lees selfs dat toe die Vredevors na hierdie wêreld toe gekom het, Hy summier aan 'n houtpaal vasgekap is. Waar's die vrede van die Vredevors nou?

Dis dán dat jy die wonderlike ontdekking van Psalm 62 maak: dat die Here midde-in die chaos by jou is. Dat Hy, in Nuwe-Testamentiese terme gesê, jou ter wille van die Een aan die kruis op ál jou lydensweë dra. Trouens, hieruit bestaan die sentrale spanning van ons lewe: om van God verlate te voel, en tog deur Hom staande gehou te word. Dis hoe die vrede van God werk wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7). Dis nie 'n vrede wat binne-in 'n kerkboek, 'n psalm, bly nie maar wat aan 'n kruis gehang het, en daarom saam met jou die hoogtes en dieptes van die lewe kan aandurf, jou kan troos onder al die kruise wat jy moet dra.

'n Man het eenmaal 'n kompetisie geloods waarin kunstenaars gevra is om 'n voorstelling van vrede te maak. Dit het die ver-beelding aangegryp, en talle kunstenaars het hulle pogings vir oorweging ingestuur.

Op die dag van die bekendmaking van die wenner het honderde mense in die saal bymekaargekom waar die kunswerke van die finaliste met doeke bedek was. Die uitbeeldings van vrede is die een na die ander onthul, en elke keer het die mense uit waardering hande geklap.

Uiteindelik was daar net twee oor. Die afwagting was voelbaar. Die man wat die kompetisie georga-niseer het, het self die doek van een afgetrek. Die mense het na hulle asem gesnak. Dit was 'n paradysmooi skildery van 'n spieëlgladde meer, omring met lowergroen bome en skape wat op die welige gras onder 'n sagte blou hemel gewei het. Dit moes tog sekerlik die wenner wees, of hoe?

Die man het die doek van die laaste skildery afgetrek. Vir 'n oomblik was daar 'n doodse stilte, want op die skildery was 'n uitbeelding van oënskynlike onrus. Toe bars daar egter applous los. Wat hulle gesien het, was die volgende: 'n water-val, só realisties uitgebeeld dat jy byna die koue klammigheid teen jou vel kon voel, met wolke wat gedreig het om enige oomblik reën en weerligstrale van bo af los te laat. 'n Boompie het skuins uit die rots gegroei, en het op een of ander wonderbaarlike manier die krag van die storm weer-staan. Een van die takke het só uitgesteek asof dit die water wou uittart. In die mik daarvan, enkele sentimeters van die stortvloed verwyder, was 'n voëlnessie met 'n voëltjie daarin wat houtgerus met toe ogies op haar eiers gesit het. Dít was die wenner. Dís vrede!

Ek vind by U vrede, rus... selfs in storms of watervloed.

Maar hoe? Ongelukkig bestaan daar nie 'n tienpuntplan of 'n resep wat hierdie vrede waar-borg nie. Maar tog is daar 'n aantal doelbewuste keuses wat jy moet maak, jy moet jou daadwerklik beywer om in daar-die rus in te gaan (Heb. 4:11). Anders - en dis 'n verskriklike moontlikheid - kan jy dit dalk misloop!

Die eerste keuse wat jy moet maak, is om weg te draai van die ander sogenaamde bronne van vrede en rus, bronne wat die wêreld of mense voorgee om vrede aan jou te bied. Trouens - 'n bietjie sinies gesê - as mense dinge aan jou belowe, moet jy die gevaarligte sien flikker, want ons harte is bedrieglik bo alle dinge (Jer. 17:9, OAV). Nét God kan vertrou word, want net Hy ken ons hart, en net Hy kan uitein-delik oor ons doen en late oordeel (Ps. 62:13).

Moenie op mense of magte of rykdom of roem of enigiets anders vertrou om jou rus te gee nie; dit sal jou teleurstel. In eeue-oue woorde, en tog so nuut soos die nuus in vanoggend se koe-rant, sê die digter dit:

Mense is verganklik, mense is niks:

op 'n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toe-neem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie
(Ps. 62:10, 11).

Moet veral nie op jouself vertrou vir vrede en rus nie, vlug ook - en dit is die tweede doelbewuste keuse wat jy moet maak - van jouself af weg na die Here toe. Soos Bonhoeffer doen wanneer hy bid:
In my is dit aanddonker, maar by U is lig. Ek is bang, maar U versterk my. Ek is eensaam, maar U is by my. Ek is rusteloos, maar by U is vrede. In my woed daar bitterheid, maar by U is berusting. U weë gaan my verstand te bowe, maar U ken die regte pad vir my.

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Pet. 5:7). Ja, stort julle hart voor Hom uit (Ps. 62:9).

Sê iemand dít mooier as Luther? "As jy iets kortkom, wel, dis goeie raad om jou hart voor die Here uit te skud, vrylik daaroor te kla, niks vir Hom te verberg nie. Wat dit ook al is, werp dit in hope voor Hom neer, soos wanneer jy jou hart geheel en al teenoor 'n goeie vriend oopmaaak. Hy hoor dit graag, wil ook graag help en raad gee. Moenie skaam wees vir Hom nie en moenie dink dat dit te groot of te veel is nie. Kom getroos uit daarmee, ook al sou dit ydel sakke vol gebreke wees. Kom uit met alles; Hy is groter, en kan en wil ook meer doen as ons gebreke. Moenie vir Hom net brokkies gee nie, want Hy is nie 'n mens aan wie jy maar net soveel smekinge en sorge kan voordra nie. Hoe meer jy bid, hoe meer wil Hy na jou luister. Skud net geheel en al alles uit, nie net druppeltjies of bietjies nie. Want Hy sal ook nie net druppeltjies en bietjies oor jou uitgiet nie, maar 'n stortvloed."

'n Stortvloed van seën binne-in die stortvloed van die storm? Waar anders in die wêreld vind jy dít as net by God?
[Uit: Het God 'n Handvatsel? Johan Cilliers, CUM, 2003].


Indeks     Index