OORWINNING VANUIT DIE HART

  Daarby moet julle geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brand-pyle van die Bose kan afweer. ...Vat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God (Efésiërs 6:16,17). Ek het vir julle geskrywe... omdat julle sterk is en die Woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het. Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreld se dinge - alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Johannes 2:14-17).

Jy het die Ewige Lewe. Iewers in jou lewe het jy tot die besef gekom dat Jesus van Nasaret, Jesus van die hemel, die enigste Opsie is: dat daar géén ander Naam is waardeur 'n mens gered kan word nie. Jy het geweet: Jesus het ook vir jóú gesterf. Jy het vir Hom gesê dat jy Hom lewenslank uit dankbaarheid sal dien.

Nou noem jy jouself 'n Christen. Maar ná elke skandelike rusie in die huis, ná die deurblaai van 'n pornografiese tydskrif, ná die onbehaaglike besoek aan 'n casino, ná nóg 'n biddelose week waarin jy ook letterlik daarvan weggeskram het om die Bybel te lees, ná nog 'n kerkdiens waarvan jy niks kan onthou nie, sidder jy.

Waar is die oorwinning? Waar is die dankbaarheidslewe, die vrugte waarna die hemelse Tui-nier soek? Waar is die geaard-heid van Jesus Christus wat so glashelder in Galasiërs 5:22 beskryf word en wat mense ook in mư moet sien? Iewers het ons die gevegswapen verloor. Daar moet tog iets wees wat ons kan help om te oorwin. Die Bybel leer ons dat dié wat oorwin, deur geloof en deur die swaard van die Gees - deur die Woord van God - oorwin. Om deur die geloof te oorwin, beteken dat ons erken dat ons nooit deur enige wilsbesluit, in menslike krag, of met aardse wysheid oor bo-aardse, demoniese magte sal kan seëvier nie. Vir voortgesette oorwinning moet ons die hulp, wysheid en leiding van die Heilige Gees afbid.

Om deur die swaard van die Gees te oorwin, beteken nie om die Woord van God in die hand vas te hou nie. Dit beteken dat ons ons harte met die Woord van God moet vul! Waar die Woord van God in 'n mensehart leef, kan menslike of demoniese luste en drange, emosies of begeertes nooit seëvier nie!

Gebed: Jesus, Oorwinnaar ... ek is niks meer as 'n immer-struikelende sondaar nie. Ek kan maar net my stamelende dank aan U bring omdat ek 'n geredde sondaar is. Ek wil nie 'n ondankbare lewe leef nie. Ek wil deur my gedrag voor die wêreld getuig dat U 'n magtige God is wat 'n gevalle sondaar in 'n ware beelddraer van God kan verander. Gee aan my die wilskrag om my hart met U Woord te vul, sodat ek hierdie geestelike oorlog vanuit 'n gelouterde hart kan voer. - Beloftes van Reën en Dou, Maretha Maartens, Aktua-pers,1996.


Indeks     Index