'N TWEEDE KANS

  BURGER HARMSE was laat-nag saam met FRIKKIE en HESSIE STRAUSS op pad Namibië toe, toe hulle skielik die ligte van 'n aankomende voertuig in hulle rybaan sien. Die volgende oomblik was daar 'n oorver-dowende slag van verfrommelde metaal. Toe was dit donker...

Burger vertel verder: "Ek weet nie of ek buite my liggaam was en of ek 'n visioen gesien het nie, maar net na die ongeluk was dit asof ek skielik vanuit 'n ander posisie of plek op die motor se wrak afkyk. Dit is al hoe ek dit kan beskryf.

"Tot op daardie stadium was ek 'n suksesvolle wildsboer wat Son-dag na Sondag in die kerk gesit het, maar nooit 'n persoonlike verhouding met die Here gehad het nie. My materiële sukses en die groot getal buitelandse toe-riste waarmee ek te doen gehad het, het my laat voel dat ek tot 'n mate 'mag' het. Die konsep van 'wedergeboorte' was vir my vreemd en gesprekke hieroor het my half ongemaklik gelaat. Hoe-wel Frikkie en Hessie Gees-vervulde mense was, was die Heilige Gees totaal afwesig in my lewe.

"Oomblikke na die ongeluk het ek om my gekyk en instinktief geweet dat ek buite die hemel-poorte staan. Sowat dertig meter van my af was groot poorte van marmer. Die helderste wit lig het uit die poorte geskyn.

"Oral was marmer en goud. 'n Entjie van my af het 'n paadjie opgeloop tot by die hemelpoorte. Aan weerskante van die paadjie was pilare van goud. Die hele tyd kon ek mense na die poorte sien opbeweeg. Almal het spierwit klere gedra.

"Dit is toe dat ek vir Frikkie en Hessie sien. Hulle albei het wit klere aangehad en met 'n man net voor die poorte gesels. Die heer-likheid het uit hulle gesigte gestraal en hulle het verskriklik gelukkig gelyk. Hierna het hulle inbeweeg by die poorte.

"Ek wou ook die heerlikheid beleef. Ek wou ook na daardie man gaan. Op daardie oomblik het ek skielik besef dat, hoewel ek die lig kon sien, ek in die duisternis staan. Ek het bewus geword van twee afskuwelike gedrogte langs my. Albei het swart klere gedra. Ek ook. Met mag en mening het ek probeer wegkom na die poorte, maar die gedrogte het my van agter af beetgekry en my al dieper die duisternis begin insleep.

"Ek het geskop en geskree terwyl vrees my oorweldig. Vir die eerste keer ooit het ek totale God-verlatenheid beleef. Soos ons afwaarts in 'n donker gat begin beweeg het, het ek skielik besef: Ek is op pad hel toe!

"Die volgende oomblik was daar 'n vieslike gloed. Die gevoel van dood was tasbaar oor my lyf. 'n Skokgedagte het deur my geruk: Ek gaan vir ewig hier wees!

"'n Geweldige worstelstryd het tussen my en die afgryslike figure begin. Ek het met alles in my na God begin roep. Die volgende oomblik het iets my weer na bo begin trek - uit hierdie aaklige plek. En veertien dae later het ek in die hospitaal wakker geword.

"Hierdie ervaring het aanhoudend soos 'n irriterende advertensie voor my bly afspeel, maar ek kon dit met niemand deel nie. Deels omdat ek skaam was om aan iemand te erken dat ek op pad hel toe was, en deels omdat ek gevoel het dat almal gaan dink ek is heeltemal gek.

"Ek wou met mag en mening teruggaan na daardie wonderlike heerlikheid van die hemel, maar ek het nie geweet hoe om daar te kom nie. Niemand by wie ek gaan hulp soek het, kon my help nie.

"Die opgehoopte emosies het my al dieper in 'n gat van depressie ingetrek. Vrees het my opgevreet. Ek het begin om met die dood te speel, maar elke keer net voordat ek te ver gegaan het, het ek weer die skokbesef gehad dat daar net een eindbestemming vir my wag: die hel - 'n bestemming wat ek nie vir my grootste vyand toewens nie!

"Na 'n lang en moeisame soektog het ek by 'n Geesvervulde kliniese sielkundige opgeëindig - iemand wat nie gedink het dat ek mal is nie. Sy het my stap vir stap bygestaan. Op 'n stadium het sy voorgestel dat ek 'n mannekamp bywoon. En ek het.

"Daardie naweek het ek die lewende, liefdevolle God ontdek en Hom aangeneem as my persoonlike Verlosser en Salig-maker. Ek is wedergebore en vandag kan ek nie ophou om vir ander van hierdie ontdekking te vertel nie!"

Burger Harmse is vandag 'n gewilde spreker op Woord in Aksie Mannekampe.

(Artikel deur Benescke Botha)

- 5 MINUTE voor en ná die dood, Isak Burger, Carpe Diem Media, 2009 www.5minute.co.za

Indeks     Index