PETROV, DIE "GETROUE KERKGANGER" | |
  |
Petrov, 'n brandarm houtkapper, het sy lewe lank die Here liefgehad. Hy was altyd 'n getroue kerkganger, totdat hy eendag onverklaarbaar begin wegbly het. Net voor kerktyd het die mense hom die woud sien instap en saans lank ná aandkerk het hy eers weer teruggekom. Omtrent dieselfde tyd het die dorpsmense ook agtergekom dat hy hulle begin vermy. Hy het nog altyd aan die einde van elke weeksdag sy vraggie hout by die handelaar kom neersit en sy karige loon ontvang, maar hy het nooit meer, soos vroeër, met 'n elk en 'n ieder 'n geselsie aangeknoop nie. Hy het niks verduidelik nie, net sy stille gang gegaan, en Sondae die hele dag lank verdwyn. Die mense het al hoe meer oor hom begin wonder. Met watter onderduimshede is hy besig? "Dalk doenig met die duiwel se dinge," het hulle bespiegel. Want hoekom sonder hy hom so af, en vir wat raak hy net mooi met kerktyd so weg? Toe een van die ouderlinge Petrov een Sondagoggend vroeg met 'n swart kat onder sy arm die bos sien inloop, was die gort gaar. "Dis Satansdinge, Dominee," het hulle die predikant gaan vertel. "Hy raak hier weg met 'n swart kat en toe hy terugkom, het hy niks by hom nie. Hy het natuurlik die stomme dier gaan offer! Netnou tref 'n onheil die dorp oor dié bose dinge. Verlede week het een van die kinders wat hom wou agternakyk toe hy die bos inloop, hoeka uit die boom geval en sleg seergekry." "Ja-nee," het Dominee gesug, en vir ou Petrov 'n brief geskryf. Hy moes hom bekeer van sy bose weë, het die brief gelui, en terugkeer na die kerk. Tot tyd en wyl hy tot besinning kom, sou hy onder sensuur wees. En as hy hom hardkoppig wou hou, moes hy net onthou dat hy nog eendag die kerk sal nodig kry as hy te sterwe kom… Petrov het maar voortgegaan met sy vreemde gedrag. Die gemeente was geskok oor sy gebrek aan berou en in sy afwesigheid het die kerkraad sy lidmaatskap opgesê. Toe die dag kom waarteen die dominee hom gewaarsku het, het hulle geweier om hom uit die kerk te begrawe. Die buurdorp het darem ingewillig dat hy in húlle kerkhof 'n rusplek kon kry. 'n Rukkie ná Petrov se dood het 'n prokureur met 'n brief geadresseer aan die predikant daar opgedaag. Dit was by Petrov se testament aangeheg, en daarin het hy verduidelik: "Ek is jammer dat ek die kerk so skielik moes verlaat. Dit het so gekom: Ek het eendag in die bos waar ek hout kap op 'n groepie melaatses afgekom wat daar weggekruip het. Hulle het niemand gehad om hulle te versorg nie. En hulle is verbied om tussen mense te kom uit vrees dat hulle die dorpenaars sou aansteek. Ek het vir hulle 'n skuiling gebou, hulle probeer versorg en vir hulle kos geneem. Maar ek kon net op Sondae gaan, want dwarsdeur die week moes ek elke uur wat ek kon, werk. U weet self hoe min ek maar uit die hout maak. Ek kon ook nie meer naby julle dorpsmense kom nie uit vrees dat ék julle sou aansteek. En, o ja, ek het gehoor dat julle wonder oor die kat wat ek daardie keer met my saamgeneem het. U sien, die siek mense het so 'n behoefte aan iets wat hulle kan streel en vashou;'n lewende wese wat nie vir hulle sou gril nie. Toe neem ek vir hulle die kat. Ek vra om vergifnis vir my gedrag. En ek vra julle om tog asseblief ná my dood voort te gaan om die melaatses te versorg en my katte kos te gee." [Stories vir die Lewe Omnibus, 'n Boek oor lewenswaardes, Piet Naudé, Lux Verbi.BM, 2002]. Vooroordeel is die kind van onkunde - William Hazlitt |