EK LIG MY HOED. EK BUIG...



 
'n Kwashaal kleur met 'n vlamwit binnegloed. Omring deur nimmereindigende swart leegtes. 'n Enorme stralekrans van gas en stof. 'n Wenteling tyd wat wielewaal, wielewaal, hemelruim wyd: die Sombrero-galaksie.

'n Sakeman kom preek onlangs by ons kerk, maar hy preek nie regtig nie. Hy praat net. Vertel sy lewen-storie. Vertel van sy verwondering oor God. God wat só groot is dat Hy die Sombrero kon skep.

Die Sombrero lê 28 miljoen ligjare ver van ons ou aardetjie af in die konstellasie van die Maagd. En lê is seker ook nie die regte woord vir dié geweldige klomp gas en oerstof wat blitssnel in die ruimte rondtol nie. Groter as groot: 50 000 ligjare in deursnit! Die Sombrero, so genoem omdat dit soos 'n reuse-Meksikaanse hoed lyk wat daar deur die swart ruim snel, bevat 100 miljard sterre. Sy stralingshelderte is gelyk aan 800 miljard sonne se glans.

Meneer Sakeman krap my kop deurmekaar met dié wondergroot getalle. Ek kan nie tot daar dink nie. Ek rek my brein soos 'n kougompie - so lank en ver soos ek moontlik kan, maar hy's eenvoudig te dun en te pieperig. Hy kom nie by begrip by nie.

Ek gryp na Wikipedia: ['n Ligjaar is 'n afstandseenheid wat gelyk is aan net minder as 10 triljoen kilometer. Dit is die afstand wat lig in 'n vakuum aflê in een Juliaanse jaar (365,25 dae of 31 557 600 sekondes). Dit word dikwels gebruik om die afstand van hemelliggame uit te druk, veral in nie-wetenskaplike publikasies. Die eenheid wat deur wetenskaplikes verkies word, is die parsek (sowat 3,26 ligjare).]

'n Ligjaar het niks met tyd te doen nie. Net met afstand. Afstande. Vertes wat jou kop laat duisel in hulle omvang. Dit sal ons 20 jaar neem om met 'n vinnige Boeing son toe te vlieg, sê die Sakeman. As ek nou dadelik opstyg, is die bure se jaaroud-tweeling mondig teen die tyd dat ek op die son land! En die einste son, wat my sal verskroei met sy hitte lank voordat ek kan land, is maar 'n speldekopspikkeltjie in die Sombrero se glans.

Ek gaan Google-loer die Sombrero. Sien NASA spog: Die foto's daarvan is van die bestes wat die Hubble-teleskoop nog ooit geneem het. Dit is lieflik. 'n Swewende, skuinsgekantelde breërandhoed van lig met 'n bol vol blink sterre. Die rand is 'n kolk geheimenis. 'n Ruimteraaisel. 'n Twee-in-een-dubbeldoor. Twee ringe woerende sterstof in mekaar ingebed. Onverklaarbaar. Onverstoord.

"Wat is die mens dan?" kom draai deur my gedagtes. "Wat is die mens dan dat U aan hom dink?" Psalm 8. Ek ken dit van my kinderkransdae af uit my kop uit: "Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink...?"

Wat is so waffers aan ons dat U met ons traak? Ons, kleiner as stofstippeltjies in vergelyking met al hierdie oorweldigende grootsheid! Wasempies wat in 'n oogwink verdamp en verdwyn. Nietig. Niks.

En tog ook so ontsaglik wonderlik. Ons. Mateloos kosbaar. Die mens: ek en jy. Almal. Elkeen. Weinig minder as 'n engel. Met belang, aansien en betekenis belaai. Só waardevol, so besonders dat ons God se gedagtes werd is. Méér: die aandag van Sy oë; die fokus van Sy hart. Hy dink nie net aan ons nie: Wat is die mens dan dat U hom besoek; dat U na hom omsien?

[Met Liefde wat saamgaan, Annalise Wiid, Lux Verbi, 2016].


Indeks     Index