DIE REDDINGSTASIE ('N GELYKENIS OOR DIE KERK DEUR THEODORE WEDEL - MET DANK AAN DIRKIE SMIT) | |
  |
Iewers in 'n land langs 'n gevaarlike stuk kuslyn waar skeepsrampe dikwels plaasgevind het, was daar 'n eenvoudige klein reddingstasie. Sommer net 'n hutjie met een bootjie. Maar 'n paar getroue lede het voortdurend die see dopgehou en dag of nag, wanneer dit ook al nodig was, sonder om aan hulself te dink uitgegaan en na die drenkelinge gesoek. Baie lewens is gered deur dié wonderlike klein reddingstasie, sodat sy roem ver versprei het. Baie van dié wat gered is, en baie ander mense vanuit die omgewing, wou hulle graag met dié stasie assosieer. Hulle het geen tyd, geld of moeite ontsien om die reddingswerk te ondersteun nie. Nuwe bote is gekoop en nuwe reddingspanne is opgelei. Die klein ou stasietjie het gegroei. Sommige lede was beswaard omdat die gebou so eenvoudig en swak toegerus was. Hulle wou 'n meer gerieflike ruimte skep as eerste toevlug vir diegene wat gered word. Die noodbedjies is toe deur regte beddens vervang, die gebou is vergroot en met beter meubels toegerus. Die reddingstasie het 'n gewilde bymekaarkomplek vir sy lede geraak. Hulle het dit pragtig versier en uitstekend begin toerus, byna soos 'n soort klub. Min van die eerste lede was nog lus om self uit te gaan as reddingspogings nodig was, daarom het hulle spanne lewensredders aangestel en betaal. Die lewensreddingmotief was steeds oorheersend in al hulle versierings, en in die vertrek waar hul nuwe lede ingelyf het, het hulle selfs 'n pragtige simboliese reddingsboot geplaas. Min of meer dié tyd het 'n groot skip in dié omgewing gestrand. Die gehuurde spanne het bote vol verkluimde, nat, half-verdrinkte mense ingebring. Hulle was vuil en siek, en baie was van ander nasies en afkomste ook. Die pragtige nuwe klub was in chaos. Die eiendomskommissie het kort hierna 'n aparte stortkamer buite laat aanbring, waar slagoffers van toekomstige skeepsrampe eers skoon en ordentlik gemaak kon word voor hulle in die klubhuis sou inkom. Sommer met die volgende vergadering reeds was daar egter skeuring tussen die klublede. Die meeste wou summier alle reddingsaktiwiteite beëindig omdat dit tot onaangenaamhede gelei het en 'n hindernis was vir die normale sosiale lewe van die klub. Sommige het egter daarop aangedring dat lewensredding die primêre rede vir hulle bestaan as klub was, en dat hulle ook nog só bekendgestaan het. Uiteindelik is hulle egter uitgestem. Die besluit was dat, as dié beswaardes nog wou voortgaan om die lewe te red van al die uiteenlopende soorte mense wat in skeepsrampe beland het, hulle hul eie reddingstasie verder aan langs die kus kon begin. Wat presies is wat hulle gedoen het. Maar soos die jare verbygegaan het, het dié nuwe stasie presies dieselfde ervarings deurgemaak en dieselfde veranderings ondergaan. Dit het ook tot 'n aangename sosiale klub ontwikkel, en nog 'n verdere reddingstasie moes gestig word. En so het die geskiedenis hom herhaal. Vandag, as mense daardie kus besoek - so eindig hierdie verhaal - sal hulle 'n hele string pragtige en eksklusiewe klubs daar aantref. Skeepsrampe vind ook nog dikwels in daardie gevaarlike waters plaas, maar die meeste slagoffers verdrink... "Die kerk is nie daar vir homself nie. Die kerk is ook nie net daar vir Christene nie. Die kerk is daar vir stukkende, vuil, honger, verontregte, werklose en daklose mense." - Ferdinand Deist
[Stories vir die Lewe Omnibus, 'n Boek oor Lewenswaardes, Piet Naudé, Lux Verbi.BM, 2002]. |