DIE KRAG VAN DIE BLOED VAN CHRISTUS | |
![]() |
|
  |
In 1995 het ek baie ernstig siek geword van Lyme-siekte as gevolg van die feit dat ek deur 'n bosluis gebyt is. Aangesien ek op daardie tydstip swanger was met my derde seun, kon die dokters nie aan my die gewenste behandeling gee nie. Die swangerskap het tydelik die simptome van hierdie gevreesde siekte verberg en ek het gedink dat ek die ontsetttende lyding wat hierdie siekte tot gevolg het, vrygespring het. Na twee jaar het die simptome egter geleidelik met felheid op die voorgrond getree en ek het ontsettend vir 'n hele aantal maande gely. Die koors, pyn, disoriëntasie en uitputting wat met Lyme-siekte gepaardgaan, het my só verswak dat dit vir my onmoontlik geword het om met my daaglikse verant-woordelikhede voort te gaan. Net om aan te trek en maaltye vir my gesin voor te berei, het vir my van my moeilikste verpligtinge geword. Somtyds kon ek nie eens onthou waar die badkamer was nie. Ek was ontredderd! Ek het 'n suksesvolle beroep beoefen en 'n gesin gehad wat afhanklik was van my. Gedurende die moelikste tye van my lyding, het ek kerk toe gegaan en op 'n bank gelê en luister na die boodskap. Een Sondag was ek egter te siek om te gaan en iemand het vir my 'n kasset gebring met 'n boodskap oor "Die Krag van die Bloed van Christus". Die prediker was ons leraar, dr. Tim Bagwell. Ek het dikwels preke gehoor wat my gedagtes geprik-kel het en my bemoedig het, maar hierdie boodskap was meer as dit - dit was lewensveranderend! Dit het my hart diep geroer en vir die eerste keer in my lewe het ek opeens die krag van die Bloed - Jesus se geskenk op Gólgota aan die mens - begryp! Die beginsels wat uitgestippel was in daardie boodskap, het my gees geopen om die wonderwerk van genesing wat sou plaasvind, te ontvang. Terwyl ek na die boodskap geluister het, kon ek Jesus op Gólgota "sien"! Ek kon Sy bloedbesmeerde rug aanskou en die dorings wat hulle diep in Sy skedel ingedruk het. Ek het gehoor hoedat Hy sê dat Hy uit die hemel getree het, Homself in menslikheid geklee het, gely het, Sy bloed gestort en gesterf het - net vir my! Op daardie spesifieke oomblik het ek genesing ontvang. Dit het baie vinnig plaasgevind, maar ek het dit onmiddellik besef. Verdere ondersoeke en toetse het getoon dat daar glad nie meer sprake van enige teken van Lyme-siekte in my liggaam was nie. Ek voel wonderlik! Dieselfde dag het ek ook 'n wonderlike geestelike deurbraak in my lewe ondervind. Ek het nog altyd kerkdienste bygewoon, maar nie 'n verhouding met Jesus Christus gehad nie. Die gesalfde preek oor Christus se offer aan die kruis om die mens te red, het so 'n radikale uitwerking op my lewe gehad dat ek besef het dat God nie net 'n “God van die verstand” is nie, maar ook 'n “God van die hart”. Sy lyding was 'n werklikheid en bewerkstellig nog steeds vir ons genesing. Indien ons hierdie boodskap van God net wil aanvaar, kan Hy ook in ons eie lewens vir ons wonderwerke verrig. Hierdie openbaring het tot my gekom deur dr. Bagwell se boodskap, "Die Krag van die Bloed van Christus". Ek sal dit nooit vergeet nie! Die volgende dag het ek weer my drafskoene aangetrek en my normale oefenprogram hervat. Ek was so geïnspireer deur God se wonderwerk in my lewe dat ek besluit het om 'n 30 km wedloop te organiseer om fondse in te samel vir die gemeente se kleuterskool. Baie van my vriende en familielede het saam met my die laaste entjie na die wenpaal gedraf en daar het dr. Bagwell my ingewag om my geluk te wens en my te ondersteun om aan God al die eer van my hart te bring! Sedertdien het my verhaal in verskeie koerante, tydskrifte, op die plaaslike TV-kanale en ook op Klub 700 verskyn. Aan God al die eer! [Voorwoord deur dr. Lael C. Melville uit As ek die BLOED Sien, Dr. Tim Bagwell, VG Uitgewers, Springs,1999]. |