GEE MY SIELE OF EK STERF!
 
Dit is die eeue-oue uitroep van wedergeborenes wat bevange is met 'n sielelas; mense wat gedurig daarvan bewus is dat sondaars daagliks sonder saligheid sterf, met 'n troostelose ewigheid wat voor hulle uitstrek. Hierdie besef dryf radikale sielewenners om mense te bereik, sodat hulle hul lewens aan Jesus Christus kan oorgee en gered word van hulle sonde.

Het ons 'n las vir siele wat besig is om verlore te gaan?

David Livingstone het 'n sielelas gehad. Hy het die gemak van sy land prysgegee, in Afrika sy hele wese oorgegee in 'n poging om die Donker Kontinent vir Jesus te bereik, en eindelik in 'n eensame tent gesterf. Toe dit gebeur, het die volk van die land wat hy vir God probeer wen het, rondom sy liggaam saamgekom en gesê: "Julle kan sy liggaam kry, maar ons wil sy hart hier in Afrika begrawe, want sy hart behoort by ons." Dit word vertel dat sy hart uit sy liggaam verwyder en in Afrika begrawe is. Toe is sy liggaam na Engeland gestuur. Hy het waarlik 'n sielelas gehad!

Die bidder, David Brainerd, het voor sy dood na die noordooste van Amerika gegaan en daar het hy op 29-jarige ouderdom gesterf. Terwyl hy bebloed in die sneeu gekniel het, het hy uitgeroep: "O God, gee my die siele van die rooihuide!" Hy was 'n radikale sielewenner!

Hudson Taylor se hart het geween toe hy na veraf China vertrek het, maar daar het hy duisende Chinese vir God gewen.

Generaal Booth het 'n visioen van verloregaande siele gehad toe hy die Heilsleër begin het. Ook sy vrou Katherine was deurdrenk met dieselfde honger om mense te wen. Daar is gesê dat, toe sy gesterf het, die ry mense wat by haar kis verbybeweeg het, meer as 3 km lank was! Een vrou het huilend voor haar kis gestaan. Agter haar het mense gesê: "sal u asseblief aanbeweeg? Daar is honderde mense wat by die kis wil uitkom." En die vrou, terwyl sy troosteloos snik, het geantwoord: "Hoe kan ek aanbeweeg? Die vrou wat hier lê het my twee seuns van die hel gered! Katherine Booth het geleef vir hulle wat besig was om verlore te gaan.

John Bunyan het gestreef om ander vir die Here te wen. Terwyl hy in Bedford-tronk besig was om "Pilgrim's Progress" te skryf, het hy geweier om te kompromitteer of sy prediking te verander - selfs toe die owerhede beloof het om hom uit die gevangenis vry te laat as hy sou ophou om Jesus Christus te verkondig. Sy enigste reaksie? "As julle my vanmôre uit die tronk vrylaat, sal ek vanaand weer op die strate preek dat Jesus vergewe en red!"

'n Kerk in Decatur, Georgia, in die VSA het in 1976 'n Sielewenners-marathon gehou en elke oggend om 09:30 en elke aand om 18:30 in die strate na huise gegaan om mense te bereik met die Evangelie. Saans is hulle terug kerk toe met nuwe gelowiges aan hul sy. In twee weke se tyd het hulle 2 000 mense vir die Koninkryk van God gewen!

Die arbeidsveld is nie sonder sy kwota humor nie. Een van die werkers en die kerk se bus-direkteur, John, het in dié tyd twee mense na die Here gelei. Een van die persoonlike werkers (Alan) het van opwinding na die middel van een van die stad se besigste strate gehardloop. Mense wat dié stad se verkeer ken, weet daar is net twee soorte voetgangers: die supervinniges en die dooies! Maar Alan was só vol blydskap dat hy reg voor 'n yslike vragmotor ingehardloop het met die uitroep: "Haai! Hallo!" Die trok het skreeuend tot stilstand geruk. Toe is die sielewenner by die venster en sê: "Iets wonderlik het nou net in daardie huis gebeur!" Die trokbestuurder dink iets vreeslik het plaasgevind en vra, "Waarvan praat jy?" En Alan sê: "Daar is nou net twee mense gered!"

Die bestuurder wis nie waarvan die man praat nie. Hy dink die huis was aan die brand en twee mense het met hul lewe daarvan afgekom. Hy sê toe, "Dit is wonderlik! Wat het gebeur?" En die klein mannetjie klouter halfpad teen die hoë voertuig op en sê, "Wag laat ek jou wys." Toe blaai hy vinnig na Romeine 3 en wys vir hom die pad na saligheid. Daar, in die middel van die besige straat, lei hy die bestuurder na die Here toe. Intussen staan John in die middel van die pad en reguleer die verkeer en wonder bo wonder - niemand toet nie en niemand wys tekens of gebruik ongure taal nie.

In Florida het 'n prediker, nie baie groot van statuur nie, 'n buitengewone plan beraam. Hy het by 'n rookgevulde kroeg ingeloop terwyl die musiek oorverdowend speel. Sy oë soek toe die ou wat vir hom soos die wildste, grootste, en rofste drinker lyk. Hy kyk hom in die oë en sê: "Haai jy, dink jy 'n Christen is 'n bang mens?"
Die groot man kyk af: "Ek wéét Christene is bangbroeke."
Sê die klein prediker: "Ek is 'n Christen en ek het meer ruggraat as jy!"
Geheel onkant betrap antwoord die groot man, "Regtig? Bewys dit vir ons!"
"Sien jy daardie blêrkas wat so hard speel?"
"Ja, natuurlik."
"Wel, as jy die moed het om die prop uit te trek, dan klim ek bo-op die snoekertafel en preek vir die ouens in die kroeg!"
"Sal jy sowaar?"
Antwoord die prediker, "Weet jy wat, ek dink jy is te bang om dit te doen. Jy het nie genoeg manlikheid in jou nie."
"O, jy dink so?"
"Ja, ek weet so! Ek het tweekeer jou ruggraat! Ek sal die prop uittrek en nog preek ook."
"Ek sal jou wys ek is nie bang nie," aanvaar die groot man die uitdaging. "Ek sal die prop uittrek om die musiek te stop."

Hy voeg die daad by die woord en 'n ysige stilte kom rus op die kroeggangers. Toe spring die klein prediker op die snoekertafel en maak die Bybel oop by Johannes 3:16. Toe hy begin preek, gryp drie pare hande na hom om hom grond toe te bring. Teen dié tyd het iets in die groot man losgewoel. Hy gryp 'n snoekerstok en sê: "Los hom uit, hy is my pêl! Hy gaan sy preek klaarmaak, al moet ek die vloer met elkeen van julle opvee!" Die evangelis het nie 'n 300-stem koor wat 'n pragtige uitnodigingslied kon sing nie, maar daardie aand het 'n paar geharde drinkers hulle saak met God reggemaak. Hierdie prediker het 'n ware sielelas gehad!

Voornemende sielewenners moet natuurlik weet dat die duiwel allerlei struikelblokke op hulle pad sal gooi om hulle daarvan te weerhou om die goeie nuus van Jesus Christus se reddingskrag met ander te deel. Sulke tye moet 'n mens nie vrees vir bespotting of oorbewus wees van jou eie swakhede nie. 'n Kind van God is tot alles in staat deur Christus wat hom die krag gee. Dit het 'n mediese dokter wat graag vir ander wou getuig, agtergekom.

In dieselfde gemeente in Georgia waar die Sielwennersmarathon gehou is, was 'n aantal mediese dokters. Hulle het dikwels gehoor hoe hul geestelike mentor sy gemeentelede aanmoedig om by siele betrokke te raak: "Julle professionele mense behoort te getuig. Julle dokters behoort julle getuienisse te gee. Elke gemeentelid het 'n getuienis van saligheid. Deel dit met ander."

Na die een diens kom een van die ouer dokters na hom toe en sê: "Ek dink ek kan iemand vir Christus wen." Hy vryf sy hande senuweeagtig. "Ek glo ek kan vir iemand getuig. Ek kan help dat 'n persoon salig word." Die volgende oggend sê hy: "Bid asseblief vir my. Vir die eerste keer gaan ek vir 'n pasiënt getuig van wat die Here kan doen."

Die oggend daarna daag een van sy gereelde pasiënte op vir 'n algemene fisiese ondersoek. Terwyl hy daarna op die kant van die bed sit en sy hempsknope vasmaak, verdwyn ou dok gou in sy spreekkamer om sy sielewennersnotas te raadpleeg. Hy lees vinnig deur die moets en moenies en onthou hoe die prediker hulle geleer het om nie iemand te vra of hy gered of wedergebore is nie. Mense verstaan nie altyd die betekenis daarvan nie. 'n Goeie vraag om te vra, is: "As jy vandag sterf, weet jy of jy hemel toe sal gaan?"

Dok is toe vinnig terug by sy pasiënt en sê: "Ek wil jou graag iets vra. Sê vir my, as jy vandag sterf, weet jy of jy hemel toe gaan of nie?" Die stomme pasiënt dop net daar om, koud soos 'n kom-kommer! Ou Dok is dadelik by met die nodige hulp.

"Dokter," weeklaag die bewende man toe hy beter voel, "Is ek regtig so siek? Sal ek nog my vrou kan gaan groet?"

Arme Dok voel toe so ellendig omdat hy sy pasiënt só ellendig laat voel en hy wonder so in die verbygaan hoe hy aan die familie sal verduidelik dat hy die rede is waarom hulle geliefde hom doodgeskrik het. Toe hy verdui-delik wat hy bedoel, begin albei beter voel en die man slaak 'n reuse sug van verligting: "Dank die Here!"

Die volgende Sondag kom Dok sy nood by sy leermeester bekla. Hy vertel sy storie en sê: "Daar moet 'n ander vraag wees wat 'n dokter vir sy pasiënte kan vra!"

Sê sy geestelike leier, "Ons sal daaraan moet werk, Dok. Maar sê my, het jy hom toe vir Christus gewen?"
"In 'n japtrap!" antwoord die medikus.
Sielelas - al was daar 'n bietjie onkunde betrokke!

Die Heilige Gees sal die gewillige mens help met wysheid. Liewer gewilliglik vir die Here werk met die kennis wat jy besit as om, met boeke vol kennis, ontrou en ongehoorsaam te wees!

- God is op die Troon, Jannie Hough, Creatix Boeke, 2009.


Indeks     Index