KOM BY DIE KOSYN VERBY
 
Ek het eenmaal by 'n gimnasium aangedoen en met die eienaar gesels. Hy praat toe oor die verskillende oefenapparate en sê: "Die moeilikste apparaat in die gimnasium is die kosyn." Fronsend het ek hom aangekyk, want alhoewel ek nie 'n gereelde besoeker by die gimnasium was nie, het ek nog nooit van so 'n apparaat gehoor nie! Waarop hy bevestig het dat hy eintlik na die kosyn van die deur verwys het. Dít is die moeilikste "apparaat", want voordat iemand homself sover kan kry om 'n goeie oefenprogram te volg, moet hy éérs by die kosyn verbykom. En iemand wat sukkel om homself te motiveer sou dalk probleme gehad het met dié apparaat!

Dit het my laat wonder: Wat is die moeilikste taak wat ons vir die Here kan verrig? Ons kan 'n dosyn of meer dinge opnoem, maar moontlik is die moeilikste werk dít wat ons in die binnekamer behoort te doen. En voorwaar, daar is ook 'n "kosyn" waar ons eers moet verbykom! Die Here roep elkeen van Sy kinders na die binnekamer toe: "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan" (Jes. 26:20).

In moeilike omstandighede moet ons onthou dat God dit vir ons sê sodat Hy ons deur ons krisisse kan help. En tog moet dit 'n spontane handeling van ons kant af wees, sodat dit nie vir Hom nodig sal wees om eers toe te laat dat ons in krisisse beland sodat ons Hom sal soek nie. Ons hoef nie te wag vir die "dag van grimmigheid" (Jes. 26:20) of "die dag van benoudheid" (Ps. 50:15) voordat ons na die binnekamer vlug nie. Soek Hom in die gunstige tye ook!

Alhoewel Hy in die tyd van benoudheid gereed is om ons hulpgeroep te hoor, wil Hy ook graag ons stemme hoor in die "goeie tye". Daarom sê Jesus ook: "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matt.6:6). Dit is ook 'n roepstem na die binnekamer. 'n Roepstem tot gebed, aanbidding en intersessie. Dus nie slegs net 'n toevlug in tye van benoudheid nie.

In ons binnekamer vind daar baie harde werk plaas wanneer ons vir ander mense en geliefdes intree. Op ons knieë doen ons die moeilikste "werk" vir God, maar tog ook die geseëndste! Want dáár sien die regverdige Vader presies wat ons vir Hom doen, en Hy vergeld ons in die openbaar! Almal sal wonder hoekom jou lewe so geseënd is totdat hulle ontdek dat daar loon is vir die een wat bereid is om hierdie harde werk te doen.

Hoekom is dit so moeilik? Die grootste rede is sekerlik omdat ons 'n vyand het wat alles in sy vermoë doen om die kinders van die Here van die binnekamer af weg te hou. Want die grootste oorloë word dáár geveg én oorwin!

Laat ons onself dus opnuut toewy om die harde, maar geseëndste werk in die binnekamer te doen, want onthou, die Here wag daar vir jou! In die binnekamer sal jy Sy stem hoor: "Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees" (Ps. 32:8). Jy sal hoor dat jy gedurig moet bid sodat jy nie moedeloos word nie (Luk. 18:1). Jy sal hoor dat Jesus jou aanmoedig om te bid: "En wat julle ook al in My Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word" (Joh. 14:13).

Hoe begin ek? Ons hoor dikwels van mense wat vir 14 of 21 dae vas en bid, en dan het hulle resultate. Ander weer, kan elke dag ure lank bid. Jesus Sélf het met tye die hele nag op die berg in gebed deurgebring. En jy vra dalk: Hoe doen mens dit? Oefen jou "gebedspiere"! 'n Goeie begin is om jou gebedstyd geleidelik te verhoog. As jy gewoond is om 10 minute per dag te bid, rek dit geleidelik tot 20 minute en klim só die leer van gebed totdat jy ook daar kom. Doen Bybelstudie en begin om die Woord te bid wat jy op jouself van toepassing kan maak. As jy dan verder hierin wil groei, is dit 'n goeie gewoonte om jou aan die Heilige Gees oop te stel en te vra: "Leer my bid!"

Jesus sê oor die Heilige Gees: "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei..." (Joh. 16:13). En Paulus skryf in Rom. 8:26-28, "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees Self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is."

In Jakobus 5:16 verklaar Jesus se broer: "Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag." Jesus Sélf het gesê: "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!" (Matt. 7:7-11).

Het ję al by die kosyn verbygekom? Dan is jy op pad om 'n ware bidder te word! Daar is só baie om voor te bid, só baie noodlydendes, só baie mense wat ons voorbidding nodig het! Stel jouself beskikbaar vir die Here, sodat ook ję, op jou knieë, 'n werktuig in Sy hand kan wees!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index