ONS STEL BEKEND...
  NG Kerk Potchefstroom - Die Bult
 
Ds. Jacie van Rensburg
As daar een woord is wat die NG Gemeente die Bult (geleë op die hoek van President- en Esselenstraat) beskryf, dan is dit die woord VERHOUDINGS. Dit gaan oor die verhouding met God, met mekaar en met die wêreld. Sowat 5 jaar gelede het die gemeente deur 'n strategiese beplanningsproses gegaan en uiteindelik het die Here ons gelei om op verhoudings te fokus. Dit het veroorsaak dat ons nuut na die erdienste gekyk het en moes bepaal hoe ons op verhoudings kon fokus tydens die erediens.
Die erediens is 'n ontmoeting tussen God en sy kinders en tussen die kinders van God onderling. Geleenthede soos die doop en belydenisaflegging en bevestiging van kerkraadslede is geleenthede waar ons werklik kan beleef dat mense vir die Here belangrik is. Daarom maak ons ook baie bemoeienis met gemeentelede wat deur een of ander moeilike tyd gaan asook diegene wat vreugde beleef.
Die omgee vir mense skep 'n atmosfeer wat moeilik beskryf kan word. Die fokus kom tot sy reg in die alledaagse lewe waar baie lidmate getuig van die wonderlike ondersteuning van ander lidmate.
Eredienste is baie belangrik in die lewe van die gemeente. Daar word van kwartaaltemas gebruik gemaak. Die belewenis van die erediens weerspieël die teologie van die gemeente.
Ons is ook baie bewus dat ons verhouding tot die wêreld hoog op die prioriteitslys van die gemeente moet staan. Ons werk met die eerste beginsel van "Beleef God", nl. Kyk waar God aan die werk is en word deel daarvan. In die besonder het die Here die saak van armoede op ons tafel neergesit en is die gemeente op baie terreine hiermee besig. Die sopkombuis wat elke Donderdag plaasvind, is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Die gemeente is ook by 'n hele aantal ander missionêre aktiwiteite betrokke.
Die gemeente het in 1961 afgestig van Potchefstroom-Noord. Die primêre doel van die afstigting was die bediening van die studente van die Potchefstroomse Onderwys Kollege (POK). Tans is die studentebediening steeds deel van die fokus van die gemeente. Studentebediening word tans deur PUK-Kandelaar, die Bult, Noord en Moedergemeente hanteer. Daar is 'n gesamentlike kommissie wat die studentbediening koördineer.
Die gevestigde deel van die gemeente word bedien deur ds. Jacie van Rensburg, die studente deur ds. Rian Steyn, en ds. Düring Cornelius is ook aan die gemeente verbonde. Hy is die voltydse koördineerder van die Eilande Sending. Thea Heydenrych is die saakgelastigde, Awie van Wyk is die orrelis en Johan Düring is die koster. Ons is opgewonde oor die pad wat die Here met die Bult-gemeente loop!

Indeks     Index