"ONE GIANT SALVATION FOR MANKIND"
  Ds. Eljam Vosloo
NG Kerk, Potchefstroom Vyfhoek


Toe die eerste mens op die maan geland het, het Richard Nixon, die Amerikaanse president van daardie tyd, gesê dat dit sekerlik die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom is, voorafgegaan deur die grootste week in die geskiedenis. 'n Week gekenmerk deur ongelooflike tegnologiese prestasie, menslike vernuf en mannemoed. 'n Mens het begrip vir sy opgewondenheid: "One small step for man, one giant leap for mankind!"
Tog was dit nie die grootste week of gebeurtenis in die geskiedenis van die mens nie! Daarvan berig die Bybel in enkele pennestrepe: "Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes" (Matteus 2:1). Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mens was nie toe die mens sy eerste tree in die ruimte gegee het - as't ware begin opvaar het hemel toe nie - maar toe God neergebuig het na die aarde toe! In sy Seun op die Melkweg na óns gestap het en sy treë onder ons kom gee het.
Met apologie aan Neill Armstrong, die eerste mens wat op die maan geloop het: "One small step for God, one giant salvation for mankind!" Behalwe: Dit was géén geringe stap vir God nie. Dit het uiteindelik die dood van sy Seun gekos! En dit is waaroor Kersfees handel: die tree wat God gegee het vanuit die hoë hemel tot by ons op hierdie lae aarde - omdat Hy ons liefhet en bereid is om vir ons skuld en sonde te sterf! (Joh. 3:16).
Karl Barth (beslis die grootste teoloog van die 20ste eeu) het by geleentheid 'n onderhoud toegestaan aan 'n aantal verslaggewers. Een van hulle het die volgende vraag aan hom gestel: "Professor, wat is die grootste waarheid wat nog ooit in u gedagtes opgekom het?" Almal het aan sy lippe gehang en verwag dat die een of ander groot teologiese of filosofiese uitspraak sou volg, té diepsinnig vir die gewone mens om te verstaan. Barth het blykbaar geantwoord: "Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so."
En dis die boodskap van Kersfees vir ons wurmpie-mense op hierdie kleinduimpie-aarde: GOD HET JOU EN MY LIEF!

Indeks     Index