GOD SE ALMAG EN GENADE
  M Schoeman (Tel: (018) 297 1348)

My verhaal handel oor God se almag en genade - nie oor sterk geloof of enigiets anders nie - en ook oor die HOOP wat daar vir elke mens is, hoe benard jou posisie ook mag lyk.
Op 6 Februarie 2004 word my man by die werk in Durban doodgeskiet. Ek bly agter met 2 seuns op Universiteit (PUK) en 'n 14-jarige dogter. Op daardie stadium het ons reeds finansieel swaargekry. Ons kon nie in Durban aanbly nie, omdat ons finansieel nie sou kon oorleef nie. Ek het besef dat daar nie geld was vir die seuns om verder te studeer nie en my oudste was reeds besig met sy derde jaar en het akademies baie goed gevaar. Ek moes bitter vinnig 'n inkomste verdien (wat menslik feitlik onmoontlik was, aangesien ek uit die arbeidsmark was vir minstens 20 jaar). Nodeloos om te sê, 'n dag na my man se dood was ek fisies en geestelik so uitgeput dat ek die aand met die Bybel op my skoot gesit en net gesê het: "Here, ek is só moeg dat ek nie krag het om die Bybel oop te maak nie." Tog maak ek in elk geval die Bybel sommer maar net oop, sien dat daar 'n versie onderstreep is en besluit om nét dit te lees. Die versie was Dan. 10:19: "Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk, wees sterk!" Ek was verstom en het gewonder of dit regtig was wat God vir my wou sê. God is egter so getrou, Hy bevestig dit agterna 2 keer aan my toe ons predikant en 'n vriendin vir my dieselfde versie gee. Dit word die versie waaraan ek krampagtig vashou wanneer dit voel asof alles om my pikswart donker is. Ek ondervind hierna talle kere (en nog steeds), dat God getrou bly aan Sy beloftes. Ek het baie gou besef dat ek en my kinders voor God staan met nét ons geloof en geen aardse sekerhede nie!
Intussen beskik God mense in my lewe (vriende, familie en wildvreemdes) om my en my kinders se lewens weer op koers te kry. Ek reageer soos 'n robot, doen alles wat ander mense vir my sê om te doen. Dis vir my en die kinders verskriklik swaar om afhanklik te wees, om soos bedelaars te voel (al vra ons niks van ander nie). Ons besef egter dat God vir ons voorsien deur mense te gebruik. Hy gooi nie vir ons 'n brood of 'n rol note uit die hemel uit nie, maar ons moet leer om met dankbaarheid te ontvang.
So beskik God dat my seuns lenings by die Universiteit kry sodat hulle kan voortgaan met hul studies. Hy beskik ook 'n gastehuis vir my in Potchefstroom en dadelik het ek 'n dak oor my kop en 'n inkomste! (Ek het gewonder waar ek werk sou kry). Hierdie dinge word gereël deur mense wat ek beswaarlik ken.
Ons huis en my man se besigheid word binne 'n rekordtyd verkoop. Almal is verheug en binne 3 maande na my man se dood, verhuis ons na Potchefstroom. Daar lê nog egter baie lesse vir my voor. Gou besef ons dat die man wat die besigheid gekoop het, 'n opperste skelm is en dat ek waarskynlik net die deposito gaan kry en niks verder nie. Ook lyk dit of die verkoop van my huis deur die mat gaan val. Ek leer in hierdie tyd om alles in God se hande te plaas en net vas te hou aan Dan. 10:19. God bly getrou en deur Sy genade lê ek nie snags wakker nie, maar as vrees my wil oorweldig, herhaal ek net die hele tyd: "God het my lief, God het my lief." Ek besef eers later dat God my leer om op niks of niemand anders te vertrou as net op Hom vir ons elke dag se bestaan nie. As ons Sy kinders is, is dit al wat ons nodig het!
Op een so 'n moeilike dag ('n dag van worstel, van sukkel om te los in Sy hande), lees ek weer die stukkie waar God vir die Israeliete kwartels in die woestyn gestuur het (Num. 11:21-31). God voorsien vir Israel (600 000 mans plus vroue en kinders) van kwartels wat 1 meter diep en 'n dagreis ver om die kamp gelê het, en dit in 'n woestyn waar daar beswaarlik kos is vir één mens!
Toe besef ek meteens hoe ons God se almag onderskat. Israel was Sy uitverkore volk, maar so is ek en my kinders ook sy uitverkorenes deur Jesus Bloed, en daarom mag én moet ek Hom vertrou! God voorsien nou al 'n jaar en nege maande vir ons vier. Ek weet ook dat, soos Hy gister en vandag gesorg het, Hy ook in tye wat kom sál voorsien, want dit is wat Hy beloof het. Ons dien waarlik 'n almagtige en genadige Vader!

Indeks     Index