AS DIE DOOD VANDAG AAN U DEUR SOU KLOP | |
  |
Duisende mense in ons same-lewing verkies om nie aan die ewigheid te dink, of waar hulle die ewigheid gaan deurbring nie. Tog is dit baie belangrik dat ons veral in die lig van die komende Kersfees, of sal ons eerder sê Christusfees, dringend aandag aan hierdie onderwerp sal skenk. Wanneer ons die sondeprobleem oorwin, word die gedagte aan die ewigheid opnuut 'n aantreklik-heid om aan te dink. Sonde het meegebring dat die mens nie meer in staat is om met sy Skepper te kan kommunikeer nie. In sy innerlike wese het daar as't ware 'n vakuum ontstaan, 'n "niksheid". Hierdie "niksheid" of geen kommunikasie met sy Skepper nie, het chaos in sy lewe teweeggebring, omdat die enigste grondslag vir orde in sy bestaan nou skipbreuk gely het. Nét God se aktiewe teenwoor-digheid in die mens se bestaan verseker orde. Die gevalle mens leef en rig sy lewe in volgens sy eie vermoëns en insigte. Hierdie eie insigte is verdorwe en daarom het hy 'n wanvertolking van die werklikheid. Hy het sy eie god geword; 'n korrupte wese en 'n slaaf van die sonde ("want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf" - 2 Pet. 2:19(b) NV). Hy het sy bestaansreg voor God prysgegee. Hoe hard hy ook al probeer om goed te doen, hy is nie daartoe in staat nie, want hy het homself gewilliglik onderwerp aan 'n verslawing onder bose magte, strukture en sondige begeertes. Deur die skeiding met God ontstaan 'n gapende leemte in die mens se lewe. Uit hierdie wortel spruit 'n magdom spesifieke begeertes voort. Alhoewel die mens bedoel is om lewens-vervulling te smaak, word hy nou aan sy strewe na lewens-vervulling verslaaf. Hy werk nou vir homself 'n lewenspad uit waar God geen plek meer het nie. Hy beplan sy lewe self, bestaan net vir homself. En tog is daar die ewige verlange na iets meer... 'n Ewige dors in sy innerlike wese wat hy nie self kan les nie. Hierdie dors probeer hy les deur aan wêreldse magte en begeertes oor te gee. Maar dit bly 'n ewige leegheid... Omdat hy nie hierdie vervalle staat van hom wil erken nie, het hy ook trots, selfversekerd en selfverheffend geword. Sy natuur is sondaar, en hy kan nie anders as om sonde te doen nie. Tog het hy mens gebly, nie iets boos of 'n duiwel geword nie. Sondaarmens, en daarom is daar tóg hoop vir hom, omdat God hom nie algeheel prysgegee of verwerp het nie. Indien die mens in die sonde bly, is daar verder geen hoop vir hom nie. Slegs maar 'n verwagting van die dood, die ewige oordeel en ewige verdoemenis in die hel! ("En net soos die mens bestem is om eenmaal te sterwe en daarna die oordeel..." - Heb. 9:27. "En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp" Openbaring 20:15). Hy leef voortdurend onder die toorn van God (Rom. 1:18; Joh. 3:36), het God sy vyand gemaak (Heb. 10:31; 1 Sam. 2:25; Ps. 76:8; Ps. 34:17) en staan skuldig voor God en sy skuldgevoelens druk swaar op hom. Sy aard of karakter is sondaar, en hy sondig daagliks meer en meer. Hy kan homself nie losruk uit hierdie put van ewige verdoemenis nie, maar sink net dieper en dieper in die modder van sonde weg. Hoe harder hy ook al probeer om nie te sondig nie, des te méér sondig hy. Daarom het God sy Seun gestuur om vir ons te ly en te sterwe sodat ons kan lewe. Dit klink egter na so 'n wye stelling. So omvattend. So asof ALMAL maar eendag hemel toe sal gaan. OORWEEG EGTER DIE VOLGENDE: (1) Kan 'n mens seker wees van jou saligheid? ("Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God" -1 Joh. 5:13). (2) Veronderstel u kom vandag tot sterwe, en u kom voor God te staan en Hy sou u vra: Hoekom moet Ek jou in my hemel toelaat, wat sal u vir Hom sê? Onthou, geen goeie werke kan u red nie. Niks wat u self kan doen nie ("Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees" - Titus 3:5; "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie" Ef. 2:8-9). WAT OM TE DOEN STAP VIR STAP RAAD AAN DIE SOEKENDE SIEL: (1) Erken dat u 'n sondaar is en dat NET Jesus u kan red. ("Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" - Romeine 3:23). (2) Bekeer u, d.w.s. keer u af van u verkeerde weë ("Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom" - Lukas 13:5). (3) Bely u sondes met berou en vra God om vergifnis. ("As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" - 1 Johannes 1:9). (4) Vra Jesus om in u hart in te kom. ("Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo" - Johannes 1:12. Lees ook Romeine 10:9,10; 13). (5) Aanvaar sy vergifnis en leef voluit vir Hom! HOE? (a) Lees u Bybel gereeld elke dag. (b) Bid elke dag. (c) Gaan gereeld Kerk toe. (d) Vertel vir iemand anders wat Hy vir u gedoen het. Mag die genade van God met ons wees sodat ons die volheid in Hom mag vind! Leef voluit vir Hom gedurende hierdie Feesgety! - JJ Venter |