MY KERSGESKENK? 'N NUWE VERHOUDING! | |
  |
Ds. Willem Louw NG Kerk Miederpark Potchefstroom Onlangs hoor ek 'n hartseerverhaal. Daar was 'n seuntjie wat Oukersaand van opgewondenheid skaars kon slaap! "Môre is dit Kersfees!" dink hy. "Môre, weet ek!" As hy vroeg opstaan, gaan hy soos die familiegebruik is, na die kerskous hardloop wat langs die kaggel hang. Daarin gaan hy die mooiste present kry, spesiaal deur mamma en pappa met liefde toegedraai! Net vir hom! Hierdie outjie kon skaars slaap. Die opwinding van weke en veral die laaste paar dae kom nou tot 'n hoogtepunt! Sy hartjie bons van afwagting! Hy kan van opwinding nie slaap nie! Hy hou die wekker dwarsdeur die nag dop! Hy tel elke minuut af! Dis amper tyd! Teen sesuur die oggend spring hy op. Hy hardloop na die kaggel. Daar hang almal se kerskouse! Hy soek, en dan sien hy sy naam op 'n kous! Hy steek sy hand in die kous... nou, uiteindelik! Hy voel, vat raak en haal uit! Wat is dit? 'n Vuil stuk klip! Dis al… Al die ander kouse is gestop met mooi blink geskenke. By hom is net een vuil klip. Die ander gesinslede kom by. Almal lag en juig oor hul geskenke! Niemand sien hom raak nie. Hy sit eenkant met sy vuil klip. Sy wêreld het in duie gestort! Hy beleef dat sy ouers hom nie liefhet nie en nie vir hom omgee nie. Dit het 'n onuitwisbare merk in sy gemoed gemaak! Sy streng pa verduidelik later die dag - dis omdat hy die vorige week stout was! Maar dit maak nie vir hom sin nie... "Ek sou enige ander straf vat, maar waarom dit?" maal dit deur sy kop. "Niemand het my lief nie!" Dit laat 'n stukkende gemoed... 'n Stukkende hart. Jare later was daar steeds die letsels van stukkende verhoudinge... binne die gesin. God se bedoeling met Kersfees is soveel anders! Die Vader kom gee die grootste en kosbaarste Kersgeskenk wat Hy ooit kan gee! Luk.2:11 - "Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!" Hy gee aan ons die Punt van Sy Hart! Sy allerbeste! Hy gee Sy enigste Seun, Jesus Christus, as Kersgeskenk! Om tussen ons gebore te word. Om mens te word. Om vir ons God se verlossingsplan uit hierdie stukkende verhoudinge, te kom deel, te leef en te leer! Hy kom bied ons 'n geleentheid om ons stukkende verhoudinge met Sy Vader te herstel! Uiteindelik sterf Jesus aan die kruis vir al my en jou sondes, sodat ons in 'n nuwe verhouding met mekaar en met God die Vader kan leef! Glo my, dit is moontlik (Jer. 32:17 & 27)! Die mooiste "dankie-sê" wat ek en jy ooit vir God kan gee, is om stukkende verhoudinge te herstel! Kyk om jou, na die mense met wie jy sukkel om oor die weg te kom! Kyk na jou lewensmaat, jou kinders, jou werkgewer, jou kollegas... Herstel jou gebroke verhou-dinge hierdie Kersfees deur Jesus Christus se verlossing te aanvaar. Leer Vader van nader ken. Begin leef in 'n nuwe verhouding met Vader deur jou elke dag vir 'n uur met jou Bybel af te sonder. Hy wil Hom so graag deur jou laat ken! (Lees Jer.33:3). Laat toe dat Sy Gees ook jóú lewe verander! |