JESUS IS WONDERLIK! | |
  |
“‘n Kind is vir ons gebore…Hy word genoem Wonderbaar” (Jesaja 9:5). JESUS CHRISTUS is in alle opsigte besonders. Van Hom is gesê: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Luk. 23:4). “Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie mens nie” (Joh. 7:46). “Waarlik, hierdie man was regverdig” (Luk. 23:47). God Self het uit die hemel gesê: “Dit is My geliefde Seun, luister na Hom!” (Matt. 3:17). Jesus is die Eerste en die Laaste wat werklik God is en terselfdertyd ook sondelose Mens. Hy het ‘n menslike bestaan aanvaar sodat ons 'n Goddelike erfenis kan verkry. Hy het Seun van die Mens geword sodat ons kinders van God kan word. Toe Hy nog ‘n Baba was, het koning Herodes bang geword vir Hom. Toe Hy ‘n Seun was, was die leraars verwonderd oor Sy wysheid en kennis. Toe Hy ‘n Man was, het Hy oor die natuur beheer gehad. Hy kon op die water loop en die stormagtige see in ‘n oomblik kalm laat word. Hy kon enige siekte genees sonder medisyne. Hy het nooit ‘n boek geskryf nie, en tog kon die grootste biblioteke volgemaak word met boeke wat oor Hom geskryf is. Hy het nie musiek geskryf nie, tog is daar meer liedere en musiek oor Hom gekomponeer as oor enige iets en enigiemand anders. Groot manne het gekom en gegaan, maar net Hy leef nog van die begin af. Herodes kon Hom nie doodkry nie, Satan kon Hom nie verlei nie, die dood kon Hom nie oorwin nie, en die graf kom Hom nie gevange hou nie. Elke mens skiet in een of ander opsig te kort, maar nie Hy nie. Hy is die unieke God. Om Hom te ken, is die grootste ondervinding wat ‘n mens kan hê. Hy is die enigste Verlosser en die beste Vriend wat daar is. Daarom kan elkeen van ons saam met miljoene ander gelowiges sê: “Hy is wonderlik!” - Oorgeneem |