DIRK SE GESKENK
 

“Tien, twintig, dertig, veertig, vyftig! Nou het ek nóg vyftig rand om in my spaarrekening te deponeer!” het Dirk opgewonde gedink. “Ek sal nog voor Kersfees my fiets kan koop.”
Dirk was trots daarop dat hy elke sent van die geld wat hy gespaar het, self verdien het. Tant Bettie, hulle buurvrou, was altyd bly om sy hulp in die tuin te hê, en oom Koos de Beer het hom dikwels gevra om sy motor te was. Tant Bettie het gespog met haar netjiese tuin en oom Koos was net so trots op sy blink motor. Albei het hom goed vir sy werk betaal.
Vinnig het hy na die sitkamer gestap. Hy moet sy ma die goeie nuus vertel. By die deur het hy egter vasgesteek. ‘n Vrou was besig om met sy ma te praat. Hy het nie bedoel om af te luister nie, maar hy kon nie help om te hoor waaroor hulle praat nie. Die dame het onder trane vertel dat haar man in die hospitaal is, dat hulle feitlik niks in die huis het om te eet nie, en dat hulle nie Kersfees sal kan vier nie.
“Ek is bevrees dat ek nie vir jou veel kan gee nie,” het hy sy ma hoor sê. “Hier is ‘n klein bydrae. Ons moet ook nou besuinig, want my man het vanjaar afgetree. Ek sal egter vir jou bid, want ek weet die Heer kan onderneem.”
Dirk het gou na sy kamer gestap. Hy het mev. Wessels goed geken. Dit was sy wat nie wou toelaat dat haar seun, Jannie, saam met hom Bybelstudie bywoon nie. “Hulle sit heeldag op die skoolbanke,” het sy gesê. “Ek kan nie insien waarom hulle in die aande ook nog moet ‘studeer’ nie.”
Dirk was nog besig om daaroor na te dink toe ‘n gedagte skielik by hom opkom. Wat van die geld in sy spaarrekening? Maar dis mos onsin! Hy het dan só hard gewerk om geld bymekaar te maak vir sy droomfiets! Nou was dit binne sy bereik...
Daardie aand was hy besonder stil aan tafel. Later toe hy op sy knieë was, kon hy nie bid nie. Die woorde, “Gee, en aan julle sal gegee word,” het aanhoudend deur sy gedagtes gemaal. Een keer het Dominee in die kerk gesê dat as ‘n gedagte na jou kom en jy nie seker is of dit reg is nie, toets dit aan die Woord van God. Bid daaroor. As dit van God is, sal die begeerte al sterker word. So nie, sal jy daarvan vergeet.
Toe Dirk die volgende oggend wakker word, het hy geweet wat hy gaan doen. As Jesus hom vra om ‘n offer te bring, sal hy dit met ‘n blymoedige hart doen, want God het so baie vir hom gedoen en gegee.
Daar was groot vreugde in sy hart toe hy omtrent al die geld uit sy spaarrekening onttrek. Met drukskrif het hy op ‘n vel papier geskryf: “Van iemand wat Jesus liefhet,” en dit saam met die geld in ‘n koevert gesit.
Die volgende dag is Dirk weg om vir twee weke vir sy ouma te gaan kuier. Toe hy terugkom, het daar baie verrassings op hom gewag! “Anton het sy fiets vir jou gebring”, was sy moeder se woorde nadat sy hom gegroet het. “Sy ouers het vir hom ‘n motorfiets gekoop, aangesien hy aanstaande jaar universiteit toe moet gaan. Soos jy weet is die fiets nog feitlik splinternuut en lyk net soos die een wat jy so graag wil hê.”
“Mev. Wessels en al die kinders gaan nou kerk toe. Mnr. Wessels is gesond en weer by die werk. Die firma vir wie hy werk, het al die hospitaalonkoste betaal. Dit het mev. Wessels só geraak, dat sy die Here Jesus aangeneem het, en sy begeer om Hom te dien. En weet jy wat, iemand het geld in haar posbus gesit met die woorde, ‘Van iemand wat Jesus liefhet.’ Daardie vel papier bewaar sy in haar Bybel, want sy sê dit was die eerste bewys dat God haar liefhet en vir haar omgee.”
Nog nooit het Dirk ‘n Kersdag so geniet nie! Hy het gevoel dat hy saam met die wyse manne sy skatte aan die voete van die Here Jesus neergelê het!
- Oorgeneem

Indeks     Index