GOD SE GROOTSTE GESKENK | |
  |
EC Roscoe Dis amper weer Kersfees! Wat beteken "Kersfees" en wat beteken dit vir jou? Die profeet Jesaja het baie, baie jare voor Chrisus al geprofeteer rakende die Koms van die Messias: “Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors!” (Jes. 9:5). "Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos" (Jes. 61:1,2). Jesus was gewillig om Mens te word en ons sondes volkome op Hom te neem: "Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoor-saam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader" (Fil. 2:6-11). Toe die bestemde tyd aangebreek het, het God Sy volk Israel besoek en Maria is deur die Heilige Gees aangeraak (Lees Luk. 1:26-38). "En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word" (Luk 1: 35). Jesus is dus nié uit die wil van 'n aardse vader gebore nie, maar uit God! Jesus se Bloed is heilig en nie dié van 'n mens nie! Só kon Hy die versoenings-offer vir die mens se sonde aan die Kruis bring - Hy, die vlekkelose Lam van God wat sonder sonde was! Die Herders in Betlehem se oop velde was so gelukkig om die eerste te wees wat die wonderlike tyding ontvang het: "En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!" (Luk. 2:10-14). God het vir alle mense voorsiening gemaak! Groot en klein, mooi en lelik, ryk en arm, man en vrou, slaaf en vryman, werkgewer en werknemer, Jood, Griek, Zoeloe, Tswana, of watter nasie ook al in die hele wêreld: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh. 3:16). Sal ons almal nie Kersfees 2007 'n spesiale dag van dankbaarheid maak om God te eer vir Sy groot liefde en genade, en lof en eer bring aan Jesus Christus wat gekom het om ons te verlos nie? |