DINK HIERDIE KERSFEES AAN CHRISTENE WAT NIE SAAM FEES KAN VIER NIE!
 
Wanneer jy hierdie Kersfees saam met jou familie aan die Kerstafel sit en daardie heerlike Kersmaal geniet, wil ek jou vra om ook 'n gebed te doen vir die Christene in bykans sestig volke waar daar geen godsdiensvryheid is nie. Waar gelowiges wat Jesus Christus as Verlosser aanvaar het, deur hul families en die samelewing verwerp word!
Net om enkele voorbeelde te noem: Terwyl jy hier lees, is daar ongeveer 2 000 Christene in die tronk in Eritrea. Nog 'n voorbeeld is Indië waar 4 500 huise en kerke van Christene oor die laaste drie maande vernietig is. In die Orissa-provinsie van Indië is meer as dertig Christene wreed vermoor. In die Kandhamal-distrik is meer as 500 mense vermoor waarvan die meeste Christene is. Duisende Christene is verjaag en hul huise is afgebrand en verwoes. Meer as 100 miljoen Christene oor die wêreld word tans geteister deur disinformasie, vervolging en diskriminasie. Nog lande waar Christene weens godsdienstige onverdraagsaamheid erge vervolging ervaar, is Noord-Korea, Saoedi-Arabië, Iran, Maledive, Bhoetan en Jemen.
In die suide van Laos het die hoof van 'n dorpie gedurende September 'n vergadering met die inwoners gehou. Christene is nie op die vergadering toegelaat nie. Die inwoners het besluit om die 55 Christen-inwoners van die dorpie te verwerp en uit die dorpie te verjaag!
Dank die Here vir Suid-Afrika, 'n land met godsdiensvryheid. Kom ons bid vir Christene in lande waar nie godsdiens-vryheid is nie. Daardie Christene moet bittere lyding verduur net omdat hulle Jesus as Verlosser aangeneem het! Bid dat die regerings van die lande waar nie godsdiensvryheid is nie, se oë sal oopgaan en dat die regerings die wette sal wysig! Bid dat die Christene deur hierdie beproewing net sterker en meer vasberade in hul geloof sal staan. As jy hierdie jaar 'n Bybel as Kersgeskenk aan die Christene in die lande waar geen godsdiensvryheid is nie, wil stuur, kan dit hulle bemoedig! Dit maak nie saak of die geskenk hulle ná Kersfees bereik nie! Dit sal hulle steeds bemoedig. Ons onderneem om jou bydrae vanjaar na Christene in die geteisterde provinsies van Indië te stuur.
(Skenk enige bedrag wat die Here op jou hart lê.) U kan dit direk inbetaal aan: Miederpark Sending, Rek. 405 041 9146, ABSA, takkode 632 005. Skryf as verwysing: Bybels, gevolg deur u van. Faks die inbetalingstrokie na 018 294 3900 (of e-pos aan: sending@ngkmiederpark.co.za) tesame met u adres. Ons sal u graag in 2009 wil inlig oor die afloop van hierdie Projek. Geseënde Kersfees! - Miederpark Sending

Indeks     Index