DIE SON SKYN, MAAR EK IS BLIND
  Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale… (Mal. 4:2).

Die son staan in glorie en majesteit hoog in die hemelboog, ver en ongenaakbaar in sy heerskappy. Die oog kan nie onbeskermd daarna kyk sonder om verblind te word nie.
Soos die son is ons God. Hoog verhewe bo die aardse rumoer heers Hy oor die hele wêreld. Al probeer ek my oë teen sy glans beskerm, Hy bly steeds daar. Soos die son wat met sy koesterende strale lig, warmte en groei bring, so kom God in die Adventtyd ook na ons. Maar anders as die son, is God in Sy onaantasbare heerlikheid tog ook naby ons. Ons kan nie na die son toe gaan nie, maar die son kan na ons toe neerdaal. God stuur Sy lig om ons donker verstand te verlig, ons koue hart te verwarm en die nag van ons sonde in ’n genadedag te omskep.
In Jesus Christus daal die Son van Geregtigheid tot ons neer. God uit God; Lig uit Lig. Sagaria besing die Betlehemskind as die Opgaande Lig wat ons besoek om te skyn oor dié wat in duisternis en doodskaduwee sit. Daar is soveel wat verdwaal is in die duister gange van die sonde. Die son skyn, maar hulle is blind. Maar, sê Maleagi, daar is genesing in Sy strale. Hy neem ons krankhede op Hom en dra ons smarte.
Ons moet van Kersfees af teruggaan na die alledaagse lewe en die lig wat ons van Hom ontvang het in ’n duister wêreld gaan uitdra.

Gebed:
Son van Geregtigheid, dankie dat U ons in die Adventtyd daaraan herinner dat ons ’n roeping het om U ligdraers in hierdie wêreld te wees.

Ons taak as leke is om ons oorgawe aan Christus só uit te leef dat dit aansteeklik sal wees.
- Paul Tournier
[Elke Môre Nuut, Solly Ozrovech, CUM, 1999].

Indeks     Index