DIE DOU VAN KALMTE
  Stort U dou van kalmte uit
tot al ons strewe staak;
bevry ons siel van angs en nood
en laat ons lewe verwoord
hoe U vrede ons aanraak.
J G Whittier

Die lewe word dikwels teen 'n koorsagtige pas aangepak. Ons lewe in 'n wêreld wat persoonlike prestasie en sukses op elke gebied beklemtoon: van gesondheid en verhoudings tot besigheid en lewenstandaarde. 'n Vinnige blik na die rakke van boekwinkels sal jou probeer oortuig dat jy enigiets kan doen en enigiets kan wees wat jy wil, as jy maar net hard genoeg probeer. Sodoende strewe mense al hoe meer daarna om suksesvol te wees, maar ervaar nogtans nooit dat hulle werklik suksesvol is nie.
Die goeie nuus is dat ons, as Christene, ons kan losmaak van alle strewe en liewer vir God vra om ons deur Jesus Christus met Sy vrede te vul, en om orde te bring uit die ongeordende kolk waarin die moderne lewe ons dompel. Ons kan berus in die voltooide werk van Christus op Golgota met die wete dat ons niks méér kan doen om gered te word as wat Hy reeds gedoen het en om God se liefde te geniet nie.
Ons weet egter dat ons Christelike lewenswandel een van voortdurende groei na geestelike volwassenheid is, maar selfs hierin het ons God se Teenwoordigheid deur Sy Heilige Gees om ons te help en te lei, want Hy lei ons op die regte pad wanneer ons onsself aan Hom oorgee. Daarom kan ons ons angstige strewe laat vaar en toelaat dat Sy vrede ons besorgde gemoed stilmaak.
Bostaande tere gebed kan ons help om vrede te midde van die chaos te vind, kalmte te midde van ons inspanning. Namate Hy orde in ons lewe bewerkstellig en vrede in ons harte bring, word ons lewe 'n getuienis van Sy vrede en skoonheid aan dié rondom ons wat steeds vasgevang is in die web van beangsde bedrywigheid wat die wêreld span. [Uit: Gebede en Oordenkings, Christian Art Gifts, 2003].

Indeks     Index