AS KOOPLUS HOOGTY VIER! | ||
  |
Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad (Markus 10:22).
Om inkopies te doen, het die belangrikste tydverdryf van die moderne samelewing geword. Dit is amper 'n nuwe vorm van aanbidding. En die moderne inkopiekatedrale maak dit vir ons so maklik om ons koop-rituele met byna godsdiens-tige toewyding uit te leef, soveel so dat die eeue-oue stelling: “Ek dink, daarom is ek,” net sowel vervang kan word met: “Ek koop, daarom is ek.” Hoekom is ons so kooplustig? (Veral hier oor Kerstyd). Omdat ons almal vasgevang is binne 'n wêreld wat deur die advertensie-media geskep word - 'n virtuele ruimte waar image alles is. Ons is so daarop ingestel om te koop dat ons nie eens twee keer dink wanneer die naam “Jesus” as handelsmerk misbruik word of die banke die plek van jou Hemelse Vader wat voorsien, inneem nie. Wanneer sekere roomyse voorgestel word as hemel op aarde, en Sondag as die beste dag om inkopies saam met die gesin te doen. Dit pla ons gewoon nie meer nie. Waar pas die Kerk in hierdie verbruikersomgewing in? Soms voel dit asof die Kerk baie goed daarin pas, omdat hy dikwels so vasgevang is in hierdie tipe verbruikerskultuur. “Groter”, “beter”, “nuutjies”, “snaakser” en “harder” kenmerk soveel van ons aanbidding. Predikers vind dit moeilik om in stilte te wag op God se Woord. Hulle spreek sommer self deur luidprekers en op advertensieborde of reuse-skerms. Daar is nie verniet by die Lausanne-konferensie vroeër vanjaar in Kaapstad 'n pleidooi gelewer dat kerke moet waak teen geloof wat materiële welvaart as beloning verkondig nie. IN ALLE EENVOUD … As ons maar net in gedagte kan hou waar Christus gebore is. In 'n stal, mense, 'n stal! Met kerslig om die geboorte te belig. En skaapwagters as die eerste besoekers. As ons as Christene nie gaan staan teen die materialisme van ons tyd nie, wie gaan? [vers@versndag.co.za, 3 Des. 2010]. |