HY SKENK SY VOLKSWAGEN, VERWAG 'N MERC | ||
  |
'God Stel nie teleur, Mense Mislei' Kaapstad. - Welvaart-teologie is ‘n onbybelse boodskap wat deur die Kerk as ‘n valse leer verwerp moet word. Dié boodskap het die naweek duidelik uit die Lausanne-kongres vir Wêreldevangelisasie gekom toe evangeliese leiers die hand in eie boesem gesteek het. Dr. Chris Wright van Engeland het aan die Kongres gesê die grootste struikelblok wat keer dat God se ware boodskap uitgedra word, is die Kerk se eie swakhede. Hy het drie kwessies uitgesonder wat deur die eeue die grootste “afgode” was waaragter die Kerk aan afgedwaal het: mag, gewildheid en rykdom. Heelwat aandag is aan veral die laaste een, gierigheid wat as welvaart-teologie na vore kom, gegee. “Ja, God ís besorg oor ons behoeftes, maar dié boodskap maak materiële goed ‘n doel op sigself,” het dr. Femi Adeleye van Nigerië gesê. Hy het verwys na ‘n nefie van hom wat by so ‘n kerk betrokke geraak het en onder hul invloed sy Volks-wagen aan die kerk geskenk het met die verwagting dat God hom ‘n Mercedes-Benz sou gee. Toe dit maande later nog nie gebeur het nie, het Adeleye aan hom gesê dis nie God wat hom teleurstel nie, dis mense wat hom mislei het. Wright het gesê die welvaart-evangelie is “eenvoudig onversoenbaar met die ware Evangelie”. Tog versprei dit soos 'n veldbrand. ‘n Suid-Amerikaanse kollega het aan hom vertel dat hy tien kerke besoek het wat hulself “evan-gelies” noem, maar by nie een het hy die ware Evangelie gehoor nie. Daar is slegs welvaart-teologie verkondig. Adeleye het gesê die welvaart-evangelie stel besittings, gesondheid en sukses gelyk aan God se guns. Dit manipuleer die Bybel om dié boodskap te ondersteun. Dit verwring die boodskap van Jesus Christus red van sonde tot “Jesus Christus maak jou ryk”. So ‘n boodskap is selde goeie nuus vir die armes. Dis net die kerkleiers wat beter klere dra, in beter motors ry en in groot huise bly. “Een ding is seker. Jesus het nooit ‘n welvaart-evangelie gepreek nie,” het Adeleye gesê. [Neels Jackson - Beeld, 25 Okt. 2010]. |