SY NAAM IS JESUS! | |
  |
Een van die mooi verhale wat vertel word oor die Evangelie van Jesus Christus is dié van ‘n sendeling na China. Hy vertel van ‘n ou vrou wat in een van sy dienste na die verhaal van Jesus geluister het. Sy het dadelik haar hart wyd oopgemaak en Jesus met blydskap ontvang as haar Heer en Saligmaker. Dae en weke het verbygegaan. Op ‘n dag daag sy weer by die sendeling se aanbiddingsplek op en sê vir hom, “Ek weet Hy het my gered en my sonde vergewe, maar sê tog net wéér vir my wat Sy Naam is!” Die invloed van die lewenswyse en lering van Jesus van Nasaret het die wêreld dramaties verander. Een van die voorbeelde hiervan is Kersfees. Hierdie dag word wêreldwyd deur miljoene mense uit elke volk en taal en nasie gevier, hoewel dit merendeels op so ‘n wyse gedoen word dat dit hoegenaamd geen verwantskap meer het met die mooi, skoon, opregte en Godverheerlikende lewe van Jesus Christus nie! In die Engelse taal het dit gebruiklik geword om Kersfees met 'n X te skryf, sodat die Naam van Christus gekanselleer word met ‘n ‘Xmas’. In Afrikaans praat ons van ‘Kersfees’ en vind geen direkte verwysing na Jesus nie. Ek glo ons het nodig om weer eens die Naam van Jesus te hoor en te bely in ons Kersfeesvieringe, sodat die invloed van Sy lewe, Gees en krag ook óns Kersfees kan beïnvloed in alles wat ons doen. Ons het nodig om weer terug te keer na die kruis en soos die Chinese vrou te sê: “Sê tog net wéér vir my wat Sy Naam is.” Terwyl ons Kersfees vier, onthou, SY NAAM IS JESUS! (Oorgeneem) |